Update
HEIDELBERG NUUS - Heleceen February (27) is Sondagaand 28 April noodlottig in 'n ongeluk beseer.
February was saam met haar vriend Laurence Moolman van Hermanus af op pad huis toe.
Sy het op die toneel gesterf na sy vermoedelik uit die voertuig geslinger is terwyl dit gerol het.
Volgens Kenny Africa, Wes-Kaap se verkeershoof het die voorval om 18:15 op die N2 sowat 34 km buite Riviersonderend in Swellendam se rigting plaasgevind. Die bestuurder van die motor het na bewering beheer verloor en dit het omgeslaan toe hy vir 'n dooie bok in die pad uitgeswaai het. Die bok is klaarblyklik vroeër raakgery.
Die nuus oor die ongeluk en February se dood het soos 'n veldbrand deur die dorp versprei en familie, vriende en voormalige kollegas het by haar ouerhuis opgedaag om hul medelye te betoon. Huldeblyke het op sosiale netwerke ingestroom.
February en Moolman het die naweek saam met haar familie en vriende haar oorlede ma se jongste suster, Heather Meyers, se 50ste verjaarsdag op Hermanus gevier. Sy het op haar tante se verjaarsdag gesterf, en 'n dag voor Moolman s'n, wat op 29 April verjaar het.
Moolman het aan Suid-Kaap Forum se korrespondent gesê hy weet nie hoeveel keer die voertuig gerol het nie, maar dit het "soos 'n ewigheid gevoel".
Hy was in die motor vasgekeer en het herhaaldelik na Heleceen geroep. Uiteindelik het iemand, vermoedelik die bestuurder van die motor wat agter hulle gery het, die motordeur vir hom oopgemaak.
February se pa, Gavin, het hartseer gesê dat die Here "sy beste blom" kom haal het. "Sy was die gom in ons gesin. Ons almal het op haar staatgemaak." Haar broer, Reevin, 'n matrikulant aan Hoërskool Langenhoven, was ook baie emosioneel toe hy die tyding hoor.
February was Springbok-skrumskakel Rudy Paige se niggie en een van Heidelberg-rugbyklub se grootste ondersteuners. Sy was ook 'n koorleier.
Die begrafnis vind Saterdag 4 Mei om 09:00 by die huis in Gamblestraat, en daarna om 10:00 vanuit St. Barnabas Anglikaanse kerk plaas. Sy laat haar pa, broer en suster Gaymore agter.
Ao. Marlene Hartzenberg, Swellendam-polisiewoordvoerder, het gesê 'n saak van strafbare manslag is geopen en word deur ao. RS Swanepoel ondersoek.
• Dit was 'n swart naweek op die Wes-Kaap se paaie met altesaam 34 persone wat omgekom het. Onder hulle is 13 voetgangers, 'n fietsryer, 17 passasiers en drie bestuurders, aldus Kenny Africa.
Heleceen was 'n groot ondersteuner van Heidelberg-rugbyklub.
Die bestuurder van die voertuig wat gerol het, het ligte beserings opgedoen terwyl die passasier noodlottig beseer is.
Lees 'n vorige artikel hier: Jong vrou sterf in ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'