Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - 'n Grypdief is deur die gemeenskap vasgekeer nadat hy Saterdag 26 Mei 'n 54-jarige vrou se beursie gegryp en daarmee weggehardloop het.
Die vrou en haar dogter was in Kerkstraat onderweg toe die voorval omstreeks 12:20 plaasgevind het. Die dogter het die grypdief al gillend probeer agternasit. Denzil Pieterse het gesien wat gebeur en het die dief met sy voertuig probeer vaskeer. 'n Ander man het hom in Mitchellstraat ingehardloop, platgetrek en op die teer vasgedruk.
Almal was in rep en roer. Omstanders het vinnig 'n sirkel om die man gevorm en geen genade betoon nie. Selfs 'n bejaarde man het 'n hou met sy kierie ingekry. Die grypdief het beserings aan sy elmboë en gesig gehad.
Die gesteelde beursie, met alles nog daarin, is aan die vrou terugbesorg.
Riversdal-polisie het die man in die vangwa gelaai terwyl woedende lede van die gemeenskap deur die tralies gespoeg en aanmerkings gemaak het. Daar is nie 'n saak by die polisie aanhangig gemaak nie omdat die vrou glo dat hy 'sy dag sal kry'.
Kyk 'n video hieronder.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'