Gallery Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Tamsin Manuels, opvoeder by Melkhoutfontein Primêre Skool het 'n Ouma- en Oupa-projek geloods net voor die skole gesluit het, waar die leerders saam met verskeie individue en besighede toiletware kon skenk.
Buiten Manuels se kollegas het haar vriend, Anzley Sitira wat by 'n bekende meubelwinkel op Riversdal werk, asook 'n paar van sy kollegas ook betrokke geraak om die projek van stapel te stuur.
Volgens Manuels het hulle sowat 100 geskenkpakkies aan behoeftige bejaardes geskenk.
Dit het items soos onder andere waslappe, tandepasta en -borsels, oorstokkies, poeier, Vaseline, sjampoe en ander toiletware ingesluit.
Fotogalery: Melkhout Primêr Ouma en Oupa-projek
"Ons het op die steun van die leerders staatgemaak om van die verskeie items in te samel om hulle meer van hul sosiale verpligtinge bewus te maak, nie net wat die skool betref nie, maar ook teenoor die breë gemeenskap en veral bejaardes en gestremdes," het Manuels gesê.
Die oumas en oupas wat 'n pakkie ontvang het, was baie in hul skik met die goeie gebaar van die goeie Samaritane en kon hulle nie genoeg daarvoor bedank nie.
"Ek wil almal bedank wat 'n bydrae gelewer het tot die sukses van die projek. Dit sluit die leerders, hul ouers, my kollegas, plaaslike besighede en individue, asook my vriend en sy kollegas in. Baie, baie dankie vir jul bydrae en toegewydheid om die bejaardes se dag so spesiaal te gemaak het," het Manuels gesê.
Cecelia Michaels neem haar geskenkpakkie in ontvangs van Merinda Daries, Isabel van Zyl en Belinda Wagenaar.
Merinda Daries, Isabel van Zyl, Lisa Kroes en Belinda Wagenaar het die geskenkpakkies gaan uitdeel.
Vorige artikel: Skool bederf oumas en oupas
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'