Update Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - As jy lief is vir jou kind sal jy sorg dat sy veiligheidsgordel vas is wanneer hy in die motor ry.
Met nog net sowat sewe weke oor voor die somervakansie aanbreek en jy en jou gesin die lang pad aandurf om êrens te gaan uitspan, is dit nodig om te besin oor die noodsaaklikheid van jou kind se veiligheid in die motor.
Veiligheid begin met die korrekte gebruik van 'n sitplekgordel.
Die doel daarvan is om beserings te voorkom deur die draer te verhoed om harde elemente van die binnekant van die voertuig of ander passasiers te tref.
Onder geen omstandighede moet 'n kind in 'n motor
- ry sonder om vasgegordel te wees nie;
- op die bestuurder of passasier se skoot sit nie;
- regop op die voorste of agterste sitplek staan nie;
- by die venster uithang nie.
Sitplekgordels red lewens
Sorg dat dit by jou kind se grootte pas. Gebruik 'n spesiale sitplek vir kinders, want die gewone sitplekgordel in 'n voertuig is te lank. Verstelbare kindersitplekke wat gebruik kan word tot die kind 12 jaar oud is, is beskikbaar. Dit is duur, maar jou kind se lewe is dit werd. Jy kan ook 'n tweedehandse een koop of by vriende of familie leen wat dit nie meer gebruik nie.
- Maak self jou kind se sitplekgordel vas;
- Maak seker die gordel bly vas tydens die rit.
Die sitplekgordel pas reg wanneer
- hy met sy rug teen die agterste leuning van die sitplek sit, sy knieë by die rand van die sitplek afbuig en sy voete die vloer raak;
- die gordel knus oor sy bobene en heupe pas;
- die skouergordel oor die skouer en bors pas, nie oor die gesig of nek nie;
Wees 'n goeie voorbeeld vir jou kind. As hy sien jy gordel pligsgetrou vas, sal hy jou goeie voorbeeld navolg.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Gordel gaan jou kind se lewe red
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'