Gallery Update Video
KWANOKUTHULA NUUSFLITS EN VIDEO - Nog 'n brand het weer verwoesting in die informele nedersetting, Enkanini op Saterdag 21 April gesaai.
'n Rustige Saterdagaand het vinnig verander nadat daar weer 'n brand, die keer in 'n ander deel van die nedersetting, uitgebreek het. Dit is slegs 'n paar meter vanwaar bykans 25 strukture 'n vorige keer afgebrand het.
Volgens een van die inwoners, wat alles in die brand verloor het, was 'n ander inwoner besig om vleis in 'n pot op die stoof te kook. Hulle het blykbaar die stoof aangelos en by die plaaslike 'Inn', 'n kuierplek gaan kuier.
Die vleis het moontlik drooggekook en aan die brand geslaan waarna 'n gasbottel in die huis ontplof het.
Mense met slegs hul nagklere aan, het verward in die donker rondgestaan. Meubelstukke, yskaste en ander besittings was oral te sien. Die hitte en rook van die vuur was oorweldigend.
Die gemeenskap wat wou inmeng het weereens die brandweermanne se taak bemoeilik.
Die munisipaliteit het gesê dat daar agt informele strukture afgebrand het en 24 persone is geraak deur die brand. Inwoners is tydelik in die Anna Lupini-gemeenskapsaal gehuisves.
Geen beserings is aangemeld nie. Hessequa-brandweer en Working on Fire was op die toneel en het die brand onder beheer gebring.
Kyk 'n video hieronder:
Die speaker, Andrew Stroebel, het die geaffekteerde inwoners Sondagaand besoek en 'n donasie van klere en skoene oorhandig.
Skenkings van blikkieskos, rys en pap kan tot Donderdag 26 April by die verkeerskantoor afgegee word.
Mans, vroue en kinders is geraak deur die brand en word skenkings van klere en babadoeke verwelkom.
Lees 'n vorige artikel | Brand: Enkanini loop weer deur
'Ons bring jou die nuutste Kwanokuthula, Hessequa nuus'