STILBAAI NUUS - Die voorwaardes van dranklisensies is 'n ernstige saak en onkunde is geen verskoning nie.
Dit was die boodskap van die Wes-Kaap drankraad se opleidingsbeampte Liezle Cameron op Donderdag 15 Augustus aan dranklisensiehouers op dié dorp. Tydens 'n vergadering wat die drankoffisier van Stilbaai-polisie, sers. Stiaan Claassens met belanghebbendes belê het, het Cameron benadruk dat by elke lisensie se spesifieke voorwaardes gehou moet word aangesien die drankraad geen genade aan oortreders sal betoon nie.
Die belangrikste punt is dat die soort lisensie bepaal watter aktiwiteite op die perseel toegelaat word.
Indien die lisensie byvoorbeeld nie voorsiening maak vir die verwydering van drank vanaf die eiendom soos by 'n winkel nie, moet alle oop drankbottels net daar bly. Dit mag onder geen omstandighede deur die persoon wat dit gebring het, verwyder word as daar nog drank in is nie. Restaurante val in hierdie groepering. Iemand wat dus sy eie drinkgoed na 'n restaurant saamneem en dit nie klaar drink saam met ete nie, moet die oop bottel in die restaurant agterlaat. 'n Dranklisensie sal summier teruggetrek word indien toegelaat word dat kliënte halfvol bottels drank huis toe neem.
Ander belangrike punte is dat geen 'ekstra tyd' na sluittyd toegelaat word nie, dat voorraad slegs in ruimtes wat op die vloerplan as stoorplek aangedui is, gestoor mag word en dat voorraad slegs by goedgekeurde verskaffers aangekoop mag word.
Indien 'n perseel van eienaar verwissel moet ook onverwyld vir die oordrag van die lisensie en opleiding van bestuurspersoneel gesorg word.
Ao. Morné D'Emiljo van Stilbaai-polisie het die aanwesiges bedank vir hul goeie samewerking. Volgens hom het drankverwante aanrandings in die afgelope ses maande met byna 54 persent verminder omdat handelaars nie alkohol aan mense wat reeds genoeg gehad het verskaf nie.
- Lug jou mening hieroor op Suid-Kaap Forum se Facebook-blad onder 'Vraag van die Week'.
Restaurant and pub owners should pay careful heed to the conditions of their liquor licenses. During an information session in Stilbaai on Thursday 15 August, the education officer of the Western Cape liquor board emphasised that ignorance will not be an acceptable excuse. For instance, if a license was issued for 'on consumption', the restaurant's license will be revoked immediately if patrons are allowed to leave with an opened, half-full bottle, even if they had brought it along.
Die inligtingsvergadering is goed bygewoon. Foto's: Deona Aucamp
Lees 'n vorige artikel hier: Halfleeg en halfvol kan albei moeilikheid maak
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'