Update
STILBAAI NUUS - Die lae misdaadsyfer wat tans in dié omgewing beleef word, is grootliks te wyte aan die sekuriteitskameras wat op Stilbaai, Jongensfontein en Melkhoutfontein aangebring is.
Só sê Archie van Dyke van die Stilbaai Sekuriteitsnetwerk (SSN). Hy het tydens 'n inligtingsvergadering wat op Dinsdag 22 Oktober in die plaaslike gholfklub gehou is, verduidelik hoe die opnames wat gemaak word die polisie se optrede aanvul. Kapt. Johan van Tonder (stasiebevelvoerder Stilbaai-polisie) het dit aan die hand van 'n aantal suksesvol opgeloste sake geïllustreer.
Die vergadering is met 'n praktiese moniteringsessie deur Lohan Oosthuizen wat verbonde is aan die maatskappy wat die kameras en sagteware verskaf, afgesluit.
Volgens Van Dyke is daar tans 15 kameras wat oorsigtelike- en voertuiguitkenningstoerusting insluit, in gebruik.
Die projek is ses jaar gelede begin en instandhoudingskoste begin nou 'n wesenlike probleem word. Alle lede van die gemeenskap word versoek om hiertoe by te dra deur donasies aan SSN, 'n nie-winsgewende organisasie, te oorweeg. Kontak Van Dyke by 082 416 7279 vir meer inligting.
Lees 'n vorige artikel hier: Kameras doen hul deel
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'