Update
TUINROETE | HESSEQUA NUUS - 'n Gesondheidsorgpraktisyn, wat spesialiseer as psigiater in die Tuinroete, dr Clifford van Wyk het sy kommer uitgespreek dat insidensie wat psigologiese simptome verwant aan Covid-19 is die laaste paar maande drasties binne die Tuinroete toegeneem het.
"Angsversteurings, paniekversteurings, depressiewe versteurings, obsessief-kompulsiewe steuring, gekompliseerde rou as gevolg van die verlies van 'n familielid of kennis weens die pandemie, en post-traumatiese stres versteuring het veral toegeneem."
Van Wyk het gesê dit is veral studente wat 'n vreemde, spanningsvolle jaar beleef waarby die psigologiese effekte van Covid-19 en die inperking 'n beduidende negatiewe impak ook op hul akademiese funksionering gehad het.
"Daar is ook die worried well, wie nie die toestand het nie, maar erge, byna verlammende angs beleef rondom die infeksie." Hy sê dit is veral by gesondheidswerkers wat hy 'n uitbrandingsbeeld (burnout) opmerk waarby dit bekommerenswekkende afmetings begin aanneem.
Van Wyk het beklemtoon dat behandeling vir bogenoemde toestande deur die media korrek weergegee moet word.
"Vir al die toestande wat ek gelys het, insluitende PTSD, is die behandeling 'n kombinasie van medikasie (anti-depressante soos Prozac-soortige middels/ SSRI's is die basis en eerste keuse medikasie), psigoterapie (kognitiewe gedragsterapie byvoorbeeld) en ondersteuning."
Voorkomende aspekte rondom psigologies gesond bly, is volgens Van Wyk positiewe ingesteldheid, probeer roetine handhaaf in jou aktiwiteite, behou kontak met belangrike persone in jou lewe (telefonies, sosiale media), wees daar om vir ander van ondersteunende hulp te wees, gebruik alle ondersteuning tot jou beskikking wanneer jy dit nodig, sonder skuldgevoelens, oefening en gesonde eetpatroon, mindfulness en ontspanningstegnieke en vermy alkohol en verdowende medikasie en substanse.
Vorige artikel: Psigiater bekommerd oor Covid-19 psigologiese simptome
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'