Video
STILBAAI NUUS - 'n Veldbrand wat laat Saterdagmiddag 1 Februarie langs die Jongensfontein-pad op Stilbaai uitgebreek het, is deur vinnige optrede gestuit.
Twee brandbestrydingsvoertuie, asook buurtwaglede en ander vrywilligers was blitsig op die toneel.
Digte rook het oor die pad en hele omliggende gebied gehang en sigbaarheid vir brandbestryders was baie beperk.
Die vlamme het in die middel van die bosse gewoed en kort-kort in 'n nuwe rigting probeer uitbreek. Die groot hoeveelheid melkhoutbome tussen die ander droër plantmateriaal het egter die brandweer se taak vergemaklik, want melkhoutbome vat nie so maklik vlam nie.
Goeie reën wat gedurende die nag en op Sondag 2 Februarie op die dorp uitgesak het, het verseker dat enige smeulende materiaal geblus is.
Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. Hessequa munisipale bestuurder, Johan Jacobs, het die versekering gegee dat 'n deeglike ondersoek na die oorsaak gedoen sal word.
Talle inwoners het na die voorval hul tevredenheid met die munisipaliteit se paraatheid ten opsigte van brande op Facebook uitgespreek.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel: Veldbrand langs Jongensfontein-pad
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'