Update
HESSEQUA NUUS - 'n Ma van 'n dorp in die streek is raadop met boelies wat haar kinders genadeloos teister.
"My dogter het littekens aan haar gesig. Die kinders by die skool laat haar nie met rus nie. Hulle stamp haar rond en snou haar beledigings toe."
Die ma het by die onderwyseres gekla, wat haar dogter weggeskuif het van diegene wat haar teiken, maar dit het nie regtig die situasie beredder nie.
"Dis veral erg tydens pouses wanneer daar geen toesig op die skoolterrein is nie."
Haar seun, wat stil en teruggetrokke is, word ook geteiken. "Die boelies pla hom wanneer hy na skool huis toe stap. Hulle gooi die inhoud van sy tas uit. Hy wil nie meer skool toe gaan nie." Albei haar kinders se skoolwerk ly onder die boeliegedrag.
Toe haar klagte by die skool nie vrugte afgewerp het nie, het sy die ACVV genader. "Die maatskaplike werker het met my kinders gesels en my seun is na 'n sielkundige by die kliniek verwys."
Hoewel sommige leerders wat onder die boelies deurgeloop het na 'n ander skool is, is dit nie vir haar finansieel moontlik om haar kinders ook te skuif nie.
"Baie van die kinders wat na 'n ander skool is omdat hulle geboelie word, het handomkeer verander," vertel sy. "Nou kom hulle tot hul reg."
Sers. Hans Busch, bestuurder van Riversdal-polisiesektor 1, het onlangs tydens 'n vreedsame protes teen geweld teen vroue en kinders by 'n skool die polisie se standpunt teen boeliegedrag onomwonde gestel. "Ons sal dit nie duld nie. As ons klagtes oor boeliegedrag ontvang, sal ons jou ouers inroep en teen jou optree."
Hy verduidelik boeliegedrag so: "Wanneer die boelie mag oor iemand kry, gaan hy dit gereeld uitoefen. Kinders wat nie by die huis maniere geleer word nie, knou saggeaarde kinders af. Soms word die kinders wat by die huis geboelie word, self 'n boelie wat ander wat swakker as hy is, afknou."
Die boelies knou nie net ander kinders af nie, maar haal ook hul eie frustrasie op onderwysers en ouers uit.
"Hulle tart die onderwyser. Wanneer die onderwyser sy of haar rug draai om iets op die bord te skryf, steek hulle tong uit of hou aan praat, wat die ander leerders se werk ontwrig. Hulle ignoreer ook ouers se opdragte om byvoorbeeld takies by die huis te verrig. Uiteindelik het die ouers geen beheer oor hulle nie."
Volgens Busch is dit die korrekte proses om eers die onderwyser te nader met 'n klagte. Indien hy of sy dit nie kan hanteer nie, moet die skoolhoof en skoolbeheerraad genader word. Dan kan Kindersorg of die ACVV se hulp ingeroep word. "Hou die polisie so lank as moontlik uit die proses," raai hy ouers aan.
Lees 'n vorige artikel hier: Boelies maak lewe ondraaglik
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'