Update
RIVERSDAL NUUS - Twintig meer skenkers het met Nasionale Bloedskenkdag op Donderdag 14 Junie by die burgersentrum opgedaag.
Riversdallers kan trots wees op 'n totaal van 113 skenkers wat hierdie keer opgedaag het, teenoor die vorige keer se 87. Vyf nuwe skenkers is aangeteken.
Arlecia November van Westelike-Provinsie bloedoortappingsdienste (WPBOD) het gesê: "Siende dat ons so 'n groot tekort het, is ons verskriklik bly oor dit. Die wintermaande is 'n moeilike tydperk vir bloedvlakke en ons wil daarom vir almal vra wat aan die skenkingsvereistes voldoen om asseblief te kom skenk."
Hessequa-munisipaliteit se munisipale bestuurder, Johan Jacobs, is vereer vir sy mylpaal van 125 skenkings wat hy bereik het. Almal was beïndruk met die koekie van die jaar wat gewen het, party het selfs aan meer as een gepeusel voordat hulle geskenk het. Vriendelike en professionele diens was aan die orde van die dag.
Stilbaai is volgende op die lys en skenkers kan by die gemeenskapsaal op Donderdag 21 Junie van 12:00 tot 15:00 skenk.
Wanneer jy vier keer vanjaar geskenk het, sal jy 'n sakkie ontvang ideaal vir jou kosblik.
Indien jy tussen die ouderdom van 16 en 65 is, meer as 50 kg weeg, gesond is op die dag van skenking en 'n veilige seksuele leefstyl handhaaf, behoort jy te kan bloed skenk.
Johan Jacobs is vir sy 125ste skenking vereer.
Lees 'n vorige artikel: Wen fliekkaartjies met bloedskenkdag in dal
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'