Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS - ’n Beheerde brand naby die Garcia-plantasies het handuit geruk nadat ’n sterk wind Woensdag 16 Mei opgesteek het.
Digte rook het oor die Langeberge gewaai terwyl vlamme groot dele van die Garcia-plantasies verwoes het.
Lugsteun, wat ’n helikopter en vliegtuig ingesluit het, het Saterdag 19 Mei gereeld na dié plantasie gevlieg om die vuur onder beheer te probeer bring.
Volgens Charles Wade, streekbestuurder van Southern Cape Fire Protection Association (SCFPA) het die wind vermoedelik ’n kooltjie bo-oor ’n reeds uitgebrande strook gewaai en dit sodoende versprei.
Lugsteun was weereens nodig omdat die vuur reeds na die plantasies en buurplase versprei het. Eden-brandweer is ook ingeroep omdat privaat grondeienaars se plase bedreig word en Working on Fire (WoF) het ook hulp verleen. Bekommerde eienaars het ook self inspring om te help omdat die vlamme reeds op dele van hul plase begin brand het.
Die vuur tussen die plantasies was op Dinsdag 22 Mei redelik onder beheer, hoewel daar steeds oop vlamme was. Lugsteun is weer op Dinsdag 22 Mei ingeroep om te help.
Kyk 'n video hieronder:
Wade het gesê: “Daar was op ’n stadium 70 mense van Mountain to Ocean (MTO), twee vol spanne van WoFwat help, SCFPA help nog al die tyd en selfs CapeNature was Maandag 21 Mei betrokke.”
Tot dusver is geen beserings aangemeld nie. Teen druktyd was die vuur nog aktief.
Lees 'n vorige artikel: Brand steeds buite beheer
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'