Update
STILBAAI NUUS - 'n Groot eer het een van dié kusdorpie se besighede te beurt geval. Stilbaai Spar is as 'Spar van die Jaar' vir die Wes-Kaap aangewys.
Die eienaar van die besigheid, Peet van Staden noem aan Suid-Kaap Forum dat dit vir hulle 'n reuse voorreg is om dié toekenning Stilbaai toe te bring. "Dit gebeur nie baie in 'n winkel se geskiedenis dat so 'n groot eer hom te beurt val nie. Ons glo dat 'n supermark soos Stilbaai Spar nie net 'n besigheid is nie, maar wel 'n gemeenskapsprojek. Ons en ons personeel streef daarna om dit voortdurend uit te leef."
Van Staden verduidelik dat hul bewus is dat hulle nie altyd alles 100% reg kan doen nie, maar is dit vir hulle noodsaaklik om die meeste van die tyd kliënte tevrede en gelukkig te hou.
"Stilbaai het 'n wonderlike diverse gemeenskap met verskillende soorte mense wat deur die jaar die dorp besoek. Dit dwing ons om beter te raak om sodoende aan al die onderskeie behoeftes te kan voldoen. Ons vertrekpunt sal altyd bly dat ons geen bestaansreg het sonder ons personeel en wonderlike kliënte nie."
Spar, KwikSpar en SuperSpar kry jaarliks die geleentheid om as streekswenners aangewys te word. Van die kriteria vir die toekenning sluit in higiëne en syfers. Stilbaai Spar is die wenner in die Spar-kategorie.
Lees 'n vorige artikel hier: Stilbaai Spar beste in provinsie
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'