STILBAAI NUUS - Teëspoed het die plaaslike span, Inverroche van Rynor Becker (jaer) en Hugo Erasmus (medejaer) nie verhinder om steeds hul voorsprong op die nasionale puntestand te vergroot nie.
Becker en Erasmus het die naweek van 3 Februarie aan die tweede ronde van die nasionale kragbootkampioenskap in Oos-Londen deelgeneem en Saterdag 'n derde plek in die Pro Stock-klas in die branderkompetisie behaal.
Veertien spanne het in dieselfde klas aan dié kompetisie deelgeneem.
Tydens Sondag se 90 km-langafstandvaart was hulle wéér derde nadat hulle 'n halfuur voor die ren by Orient-strand hul boot se enjin moes oorbou toe hulle probleme tydens die opwarmingsessie ondervind het.
Die span is steeds eerste met nog twee rondes van die kampioenskap oor.
Dié ronde van die nasionale kampioenskap het vir die eerste keer in ses jaar weer in Oos-Londen plaasgevind met die deelnemers wat hul visier op die wêreldkampioenskap in Frankryk in Oktober het.
Nog 'n plaaslike span, Van Schalkwyk Vervoer van JG Horne en Vincent Jansen van Vuuren van Riversdal was Saterdag 11de in die Pro Stock-klas in die branderkompetisie.
Hulle het enjinprobleme ondervind en kon nie Sondag aan die langafstandren deelneem nie.
ARTIKEL: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'