STILBAAI NUUS - Plaaslike hengelaars het behoorlik die pryse en toekennings tydens die Eden-strandhengel se jaarlikse prysuitdelingsfunksie wat in die Wildernis-hotel aangebied is, inkatrol.
Stilbaai het die beker gewen vir die klub wat die meeste ligas gewen het. Hulle deel die Burger-trofee vir die span wat die meeste vis vrygelaat het. Hul wen selfs die A-liga met die Stilbaai Barbarians wat die winterliga gewen het.
AJ de Beer het die beker gewen vir die beste hengelaar oor twee jaar en was ook die hengelaar wat die meeste vis vrygelaat het.
Raldu Potgieter het die trofee ontvang vir die meeste interklub-vangste (47) en het tweede geëindig in die afdeling vir tophengelaars oor twee jaar. Leon van Wyk het 'n spesiale toekenning ontvang vir die skeurtandhaai wat hy inkatrol het. Lena Cronjé was die beste dame in die winterliga terwyl Willie Welman die tophengelaar in die winterliga was met Potgieter wat vyfde geëindig het.
Xandré Coetzee was boonop die beste o.16 junior en Willie Vorster die beste Grand Master. Elzaan Cronjé is as die sportvrou van die jaar aangewys en het saam met Mathew Summer 'n sertifikaat as erelid ontvang. Dit word toegeken aan lede wat 10 jaar of langer Eden op nasionale vlak verteenwoordig het.
Stilbaai se A- en B-ligas het skoonskip in die somerliga gemaak met die C-liga wat tweede geëindig het.
Vyf Stilbaai-hengelaars in die top-12 oor twee jaar. Agter, van links: Renier Nortjé, Danie Lodewyk, Stilbaaiers André Olivier, Raldu Potgieter, Xander de Beer en Dirkie Saayman. Pieter Muller, Brian Rapson, Riaan Heunis en Hendrico Lesch (heel regs) met Marius Baard (heel agter). Die tophengelaar is Stilbaai se AJ de Beer, heel voor met sy trofee.
Nóg lede het toekennings ontvang met Ruan Westraad wat die beker ingeoes het vir die grootste kabeljou (6,67 kg) wat hy uitgetrek het. Floors en sy seun, Florie Marais kry die silwer ouer- en kind-trofee vir hul tweede plek. Florie was tweede in die o.16-afdeling oor twee jaar met Van Wyk wat 'n silwer ontvang in die meester-afdeling.
Nóg vier Stilbaaiers is onder die toptwaalf oor twee jaar met Potgieter (4de), Dirkie Saayman (5de), André Olivier (10de) en Xander de Beer (11de). Tinkie Westraad is as die administrateur van die jaar aangewys. Verskeie Stilbaai-hengelaars is ook in die Eden-span opgeneem. John May, Van Wyk en André Coetzee is in die Suid-Kaap-ontwikkelingspan.
Potgieter is as bestuurder gekies en Florie is die onderkaptein van die o.16 span wat deur Floors bestuur word.
Elzaan is die onderkaptein van die vrouespan. Tinkie en Wilna Venter is deel van dié span. Willie Vorster is in die master- en grand masterspanne opgeneem.
Xander, Ruan Westraad en Stefan van Huyssteen is almal in die senior B-span met André Olivier wat die B2-span gehaal het. Vyf Stilbaaiers is in die A-span – Potgieter, AJ, Welman, Sumner en Saayman met Floors wat die bestuurder is.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'