STILBAAI NUUS - Plaaslike hengelaars het hul oorheersing in die Suid-Kaap interklub hengelkompetisie die naweek voortgesit deur die sewende liga by Boggomsbaai ver te wen.
Stilbaai is die algehele voorlopers met nog twee rondes wat afgehandel moet word.
Raldu Potgieter het die dag gewen en is gevolg deur Stilbaai se John May, met AJ de Beer wat sesde was.
Willie Vorster het die meesters (bo 50 jaar) gewen en was tweede in die groot meesterklas (bo 60 jaar), terwyl Floris Marais jr. die o.16-afdeling gewen het en nou ook die algehele voorloper in dié afdeling is.
Wat die dames betref, was Mariette Westraat derde met Elzanne Cronje vierde.
Stilbaaiers het boonop die grootste eetbare én nie-eetbare visse vir die dag uitgetrek, met Ruan Westraad se kabeljou wat 6,67 kg geweeg het en John May se eendbekrog wat 47,66 kg was.
Wat die stand van sake na die sewe ligas betref, is De Beer die algehele voorloper, met Potgieter tweede en Dirkie Saayman derde, Leon van Wyk is vyfde en Mathew Sumner is sewende, wat beteken dat vyf Stilbaaiers in die algehele top 10 is.
Floris Marais sr. en jr. met die jong Floris wat die o.16-afdeling gewen het en die algehele voorloper is.
Die A-span is voor en is boonop 412.58 punte voor hul naaste teenstanders, met die B-span wat van die vierde na die tweede plek opgeskuif het en net 61.64 punte agter die voorlopers in dié afdeling is, terwyl die C-span óók tweede is.
Die voorlaaste ronde van vanjaar se kompetisie vind op 24 Maart by Stilbaai plaas.
ARTIKEL & FOTO: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'