STILBAAI NUUS - Raldu Potgieter het die gesogte toekenning van top senior A-hengelaar oor drie jaar inkatrol en is vir die Protea-hengelspan gekies.
Hy het dié toekenning tydens die Suid-Afrikaanse kushengelvereniging (SASAA) se nasionale prysuitdeling ontvang.
Die senior A-hengel, nasionale kampioenskap het op Struisbaai van 4 tot 8 Maart plaasgevind.
Sy spanmaat AJ de Beer is ook in die Protea-hengelspan opgeneem. De Beer het tydens die kampioenskap tot op die laaste voorgeloop, maar MJ Smith van die Wes-Kaap het hom net-net met 249.70 punte teenoor sy 240.35 punte gewen. Hy eindig dus tweede.
Die Eden-span eindig tweede met 1243.43 punte uit 12 provinsies, met 144 hengelaars wat deelgeneem het. Die toekenning vir mees standvastige span is aan Eden toegeken.
Potgieter het gesê: "Dit verg baie toewyding en harde werk. Ek moet vir AJ baie dankie sê vir sy hulp. Ons hengel gereeld saam om in oefening te bly.
"Jy leer baie by ervare hengelaars. Jy moet gereeld by die see wees, eksperimenteer en op datum wees met die nuutse tegnologie.
"Om die tophengelaar oor drie jaar te bly moet jy gereeld presteer. Jy moet eers vir die top-18 in aanmerking kom en dan sorg dat jy daar bly." De Beer en Potgieter sal weer in Desember op Struisbaai hengel.
Die Protea-hengelspan waarin AJ de Beer en Raldu Potgieter opgeneem is.
AJ de Beer met 'n reuse-pylstert wat hy inkatrol het.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'