STILBAAI NUUS - Ná 'n afwesigheid van twee jaar bied dié kusdorp vanjaar weer 'n rubberbootwedren aan.
Die tweede ronde van die Westelike Provinsie se 2017/2018- streekkampioenskap vind op Saterdag 25 en Sondag 26 November by Lappiesbaai se hoofstrand plaas.
Dit is die laaste byeenkoms voor die jaarlikse Trans Agulhas-uitdaging wat op 28 Desember in Plettenbergbaai begin en vyf dae en 700 km later op 1 Januarie 2018 by Vishoek in die Kaap eindig.
Tussen 20 en 30 spanne van sover as Kaapstad en die Weskus, Port-Elizabeth en Oos-Londen, asook die Suid-Kaap en uit die binneland sal die naweek van die geleentheid op Stilbaai gebruik maak om vir die Trans Agulhas-vyfdagren, wat op 29 Desember hier aandoen, te oefen.
Stilbaai se Springbokjaer en huidige wêreldkampioen in die branders, Raynor Becker, sal ook in aksie wees saam met sy medejaer, Hugo Erasmus.
Die kompetisie begin Saterdag met die branderkompetisie van 09:00 tot 15:00.
Sondag neem die spanne aan 'n langafstandren van ongeveer 130 km deel wat om 09:00 by die hoofstrand begin en ongeveer 13:00 weer daar eindig.
Toegang is gratis.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'