STILBAAI NUUS - Drie hengelaars van dié kusdorp is na afloop van die SA nasionale rots- en strandhengelkampioenskap in Port Elizabeth vir die SA Presidentspan gekies.
AJ de Beer, Raldu Potgieter en Willie Welman sal saam met die res van die span in Oktober vanjaar in Namibië deelneem. Potgieter het tydens die nasionale kampioenskap ook die toekenning ontvang vir die hengelaar wat die meeste visse gevang het (64), terwyl hy ook die sesde beste individuele hengelaar was.
Potgieter, De Beer, Welman en Dirkie Saayman was almal deel van die Eden-span wat die wenspan tydens die nasionale kompetisie in PE was. Stilbaai se Floris Marais was die afrigter van die Eden-span.
Ná dié vyfdag-kompetisie was Potgieter derde in die land oor drie jaar, met Welman 11de, De Beer 18de, Matthew Summer 45ste en Xander de Beer van Riversdal 46ste.
Die hengelomstandighede en wind was nie baie gunstig nie en hengelaars het oorwegend sand- en skeurtandhaaie en kabeljous uitgetrek, terwyl 'n pylstert van 154 kg ook gevang is.
Die span van Eden wat die nasionale wenners is.
Potgieter het die beste van die Stilbaaiers gevaar deur die tweede grootste kabeljou van die toernooi te vang. Dit het 8,1 kg geweeg. Al die visse is weer vrygelaat.
ARTIKEL: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'