MELKHOUTFONTEIN NUUS - Rugbyderby's lewer selde aanskoulike rugby op en gistermiddag se taai kragmeting tussen Seagulls en Riversdal Blues het dit ook bewys.
Dit was 'n harde gelykopstryd met beide spanne wat tot aan die einde alles gegee. En selfs meer.
Seagulls se ekstra suksesvolle doelskop het die deurslag gegee en hulle kon op hul tuisveld as oorwinnaars van die veld stap: 18-16.
Die spanne het met rustyd gelyk getrek op 6-6.
Die uitbundige tonele op en van die veld is 'n bewys van hoe belangrik dié oorwinning vir Seagulls en hul ondersteuners was.
'n Sterk wind het sake vir albei spanne bemoeilik en stelskopwerk pale toe was maar 'n geval van "mog het troffe."
Die spel het nooit werklik gevloei nie en van sprankelende hardloopwerk is daar maar min gesien. So hier en daar is goeie aanvalle uit gebroke spel gesien.
Hier teen die einde - en met die tuisspan voor met twee punte - het die Blues talle aanvalle op Seagulls se doellyn geloods, maar die tuisspan se verdediging het gehou. Dit was senutergend.
Riversdal Blues se tweedes het redelik maklik met 28-7 gewen terwyl Seagulls se derde span naelskraap met 10-8 gewen het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’