Gallery
RUGBY NUUS - 'n Rugbyderby tussen twee buurspanne is selde aanskoulik. Maar saai en sonder drama nooit.
Saterdag s'n tussen Seagulls en Albertinia Rangers het aan al die elemente van 'n harde, ongenaakbare kragmeting voldoen.
Dit was omtrent 'n geween en 'n gekners van tande soos die spelers inmekaar vasgedons het en sommige van daai raakvatte het geklink soos geweerskote wat afgaan soos die manne mekaar in die grond geboor het.
Seagulls was op sy tuisveld aan die wenkant met 16 - 12, maar maklik het dit beslis nie gegaan nie. Vooraf is gesê Albertinia staan nie veel van 'n kans nie en dat Seagulls, wat gerieflik in die Super B-liga voorloop, maklik behoort te wen.
Maar die besoekers het nooit gaan lê nie en veral ná rustyd, met die tuisspan gerieflik voor, verwoed aangeval en Seagulls se verdediging behoorlik getoets.
Albertinia het Seagulls se verdediging in die tweede helfte van hul kragmeting met verskeie gevaarlike aanvalsbewegings getoets. Hier storm Charlton Pietersen, agtsteman van Albertinia, vorentoe met die bal met drie verdedigers wat sukkel om hom plat te trek. Michael Kleinhans (haker) kom nader gedraf.
Die feit dat Seagulls eers 'n geelkaart gekry en daarna met 'n rooikaart gestraf is, het hul taak geensins vergemaklik nie. En 'n string strafskoppe, veral in die tweede helfte, het Albertinia kans gegee om Seagulls in sy gebied vas te pen en ook soms vinnig aan te val. Dit het die tuisspan goed op die agtervoet gehou, maar hulle kon darem enduit aan hul voorsprong vasklou.
Dit spreek boekdele van Seagulls se karakter en veggees. Hy sal moeilik vanjaar gestuit word.
Met die ander Hessequa-spanne het dit nie te waffers gegaan nie. Heidelberg het in Parkdene met 19 - 10 teen Crusaders verloor, terwyl Progress vir Riversdal Blues met 29 - 13 geklop het.
Die Blues kan vergoed vir dié nederlaag wanneer hulle Blanco Saterdag in Riversdal pak. Dis een wedstryd wat hulle móét wen.
FOTOGALERY: Wedstryd tussen Seagulls en Albertinia Rangers
Heidelberg behoort nie veel moeite te ondervind om George op sy tuisveld te klop nie. Seagulls speel weg teen Harlequins, maar Albertinia Rangers het darem 'n tuiswedstryd teen Collegians.
Foto's: Hugo Redelinghuys
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’