Gallery Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Albertinia Rangers en Seagulls van Stilbaai het Saterdag 5 Mei op laasgenoemde se tuisveld voor 'n volgepakte paviljoen en ondersteuners reg rondom die veld kragte gemeet in die SWD Presidentsliga, Langebergstreek.
Dit is Rangers wat na 'n harde wedstryd as oorwinnaars van die veld draf met die telling op 30-17. Die besoekers het teen rustyd met 17-10 voorgeloop.
Rangers se heelagter, Jonathan Matiso, het binne die eerste vyf minute van die wedstryd hul ondersteuners behoorlik op hul voete gehad toe hy die eerste drie druk. Hyron October van Seagulls het kort daarna die eerste punte vir sy span met 'n drie aangeteken. Wilhelm Sollmans (heelagter) van die tuisspan het voor rustyd een drie verdoel en met 'n strafskop geslaag.
Keanan Tarentaal (Rangers losskakel) het met 'n strafskop geslaag en twee drieë verdoel. Tarentaal, asook Gordon Ntozini het na lemoentyd elk 'n drie gedruk. Seagulls het hard teruggeveg, maar is telkemale reg voor hul opponente se doellyn in hul spore gestuit.
Hogan Nomdo word letterlik van sy bene opgetel deur twee Seagulls-spelers. Lenesteyo Nomdo draf nader vir bystand. Foto: San-Marié Cronjé
Hulle kon in dié helfte slegs een welverdiende drie deur Joswin Esau druk, maar volgens Veronica Wessels, visevoorsitter het Seagulls se jong span baie ondervinding uit die wedstryd opgedoen.
"Rangers was teen die einde die beter span op die veld en het die wedstryd verdienstelik gewen."
Joswin Esau van Seagulls druk sy eerste drie in die tweede helfte. Abraham September is net te laat om te keer. Foto: San-Marié Cronjé
Fred Carelse, voorsitter van Rangers het gesê dat Tarentaal weereens die generaal van die wedstryd was en het, buiten sy drie in totaal 10 punte met sy skopskoen aangeteken.
Lees 'n vorige artikel: Jong Seagulls te lig vir Rangers
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'