STILBAAI NUUS - Seagulls reis Saterdag 15 Augustus na Brandwag vir hul ligawedstryd teen Happy Hearts. Die span is vasbeslote om ná die langnaweek weer momentum in die seisoen te kry.
Na 'n ruskans die afgelope langnaweek sal die Seagulls-spelers gretig wees om hul beste te lewer en alles in die stryd te werp. Die span sal veral daarop fokus om ná hul naelskraapse nederlaag teen Riversdal weer op dreef te kom.
In hul vorige ontmoeting met Happy Hearts in Maart in Melkhoutfontein was beide die A- en B-spanne aan die wenkant. Die A-span het aanvanklik 'n gerieflike voorsprong van 31 - 15 opgebou, maar het dit laat krimp voordat die eindfluitjie op 31 - 27 geblaas het.
Dié ervaring sal beslis tydens die span se voorbereiding hierdie week in hul agterkop wees. Seagulls weet dat 'n groot voorsprong nie bloot verdedig kan word nie en dat hulle tot die laaste minuut gefokus moet bly.
Met 'n ervare afrigtingskorps en spelers tot hul beskikking, behoort die Seagulls egter goed voorbereid te wees om dieselfde slaggat te vermy en Saterdag in Brandwag 'n sterk vertoning te lewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’