ALBERTINIA NUUS - Rugbyliefhebbers het Saterdag 31 Maart na die plaaslike sportterrein gestroom vir 'n rugbytoernooi tussen verskeie spanne.
Elke klub het met twee spanne opgedaag. Villiersdorp se A-span het teen Rangers in die hoofwedstryd te staan gekom en met 12-86 verloor. Die besoekers het alles in die stryd gewerp, maar kon nie al die gate toestop nie. Rangers het rustyd reeds met 44-0 voorgeloop. Die tuisspan het altesaam 14 drieë aangeteken.
Die skeidsregter, Jason Jaftha, het hom goed van sy taak gekwyt en geen vuilspel geduld nie. Rangers se B-span het die Buffeljagsrivier-span met 47-8 gewen en sewe drieë gedruk.
Die bestuur en voorsitter Fred Karelse was in hul skik met die sukses van die dag. Geen ongevalle is aangemeld nie en geen klub het die toernooi met leë hande verlaat nie, te danke aan Rangers se gereelde borg, Eric Pietersen. Hy het bygedra met die pryse en trofeë wat aan die spanne oorhandig is. Albertinia-rugbyklub het al die klubs wat in die Boland rugbyliga-streek deelneem, vir hul deelname aan die toernooi bedank en genooi om weer op 2 Maart volgende jaar hul trofeë te kom verdedig.
Rangers A-span wat die wedstryd teen Villiersdorp A gewen het. Foto: Heinrich Fortuin, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'