Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - 'n Splinternuwe skrummasjien is Maandag 27 November deur die Wes-Kaapse minister van sport, Anroux Marais aan Seagulls-rugbyklub oorhandig.
Die projek om dié oefenapparaat aan te skaf, is geruime tyd gelede begin en die voormalige voorsitter van die klub, Marlin Jansen, het die minister en haar department vir die apparaat bedank.
Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, het aan Marais genoem hoe 'n belangrike rol die rugbyklub, wat vroeër vanjaar sy 40ste bestaansjaar gevier het, in die gemeenskap van Melkhoutfontein speel waar rugby en krieket die belangrikste sportsoorte is en die meeste spelers en veral kinders, aan albei sportsoorte deelneem.
Die minister het gesê dat dit belangrik is dat almal saam kan werk om die kinders te bemagtig en het dit beklemtoon dat die behoeftes en talent geïdentifiseer en ontwikkel moet word.
Die geleentheid is onder andere ook deur Jakkie Wessels, bestuurslid van SWD-rugby; die voorsitter van die klub, Elvis Kiewitz; Chris Onrus, Hessequa se direkteur van gemeenskapsdienste; DA-raadslid Ben Smith, asook Marais se persoonlike assistent Hannes Bouwer en Herman van der Westhuizen, hoof van die minister se kantoor bygewoon.
Van links is Elvis Kiewitz, Anroux Marais, Jakkie Wessels en burgemeester Grant Riddles.
ARTIKEL & FOTO: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'