Update
RIVERSDAL NUUS - Arrows-rugbyklub van Slangrivier het Saterdag, 23 April in hul tuiswedstryd teen Riversdal Dorp daarin geslaag om hul besoekers met 29-10 te troef, dit nadat die rustydtelling in die SWDRU Eersteliga Wes-wedstryd 10-0 in Riversdal Dorp se guns was.
Dit het vanaf die afskop geblyk dat die besoekers met hul swaarder pak voorspelers die wedstryd gemaklik sou wen, maar die tuisspan was na rustyd 'n veel verbeterde span.
Die Arrows het met meer konstruktiewe spel voorlangs beheer geneem en die wedstryd begin domineer en sodoende ook 'n bonuspunt verseker met hul vier drieë.
Die vlugvoetigheid van veral die tuisspan se agterspelers het die opponente vele kere in trurat gehad, wat meegebring het dat die besoekers uit stoom gehardloop het.
Die puntemakers vir Arrows was Leonard Manuel (senter) met twee drieë, terwyl Timothy van Wyk (plaasvervanger-agsteman) en Alistair Lotz (plaasvervanger-regtervleuel) elkeen 'n drie gedruk het.
Die skrumskakel, Franco Booysen het drie doelskoppe en een strafskop bygevoeg.
Vir Riversdal het die regtervleuel, Fernando Pietersen daarin geslaag om een drie te druk, met losskakel Wayne Stoffels wat met die doelskop en een strafskop geslaag het
In die wedstryd tussen die B-spanne het die tuisspan ook as oorwinnaars met 23-11 uit die stryd getree, nadat hulle met 11-7 gedraai het.
Puntemakers vir Arrows was Tashwill Louw (slot), Trevor Davids (plaasvervangerslot) en Joe-Hansen Jacobs (plaasvervanger-regtervleuel) wat elkeen 'n drie gedruk het. John Michaels (skrumskakel) het een drie verdoel en ook met twee strafskoppe geslaag.
Vir Riversdal het agsteman Reagan Paulsen gaan druk met losskakel Ricky Goliath wat verdoel het.
Vorige artikel: Arrows looi Riversdal
Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'