RIVERSDAL NUUS - Paarl Gimnasium se o.19A-rugbyspan het hul skitterende vorm in skolerugby vanjaar voortgesit deur Oakdale se Bulle gistermidag (Saterdag 25 Mei) in Riversdal met 43-35 te klop.
'n Strafdrie teen die einde het dalk die Oakdallers effe gevlei, maar dat die Paarliete die beste span op die veld was sal niemand in twyfel kan trek nie.
Met die rustydtelling op 19-7 in die besoekers se guns, was Oakdale nog mededingend en is hulle glad nie oordonder nie. Maar toe Gim binne 'n minuut ná rustyd gaan druk en met 26-7 voorgeloop het, het die dit gelyk of die Paarliete hier 'n wegholoorwinning gaan behaal.
Die telling het in een stadium op 36-14 gaan draai, maar gee Oakdale dit ter ere: hulle het nooit gaan lê nie en aanhou veg. Dis met desperate verdediging wat hulle walgegooi het en verhoed het dat die telling aanhou groei.
Oakdale se terugvegpoging het dividende opgelewer en hier na aan die einde het hulle teruggeveg om met slegs 33-26 agter te loop.
Voorlangs het die spanne goed teen mekaar opgeweeg met Oakdale wat die Paarliete soms in die skrum in trurat gehad het. Die besoekers het wel heelwat beter in die lynstane gevaar, maar dis hul agterlynspelers wat Oakdale se verdediging behoorlik getoets en met puik ondersteunende spel dikwels groot ente veld gewen het.
Maar Oakdale hoef nie in sak te gaan sit nie. Hulle was mededingend teen een van vanjaar se topskolespanne.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’