HEIDELBERG NUUS - Na drie agtereenvolgende oorwinnings moes Heidelberg-rugbyklub Saterdag 21 April sy eerste punte afstaan toe hulle in hul eerste wegwedstryd in die doodsnikke van die wedstryd deur Bridgton met 24-22 verslaan is.
Heibi was rustyd met 10-13 agter. Dit is hul eerste verloor vir die seisoen. Die sege vir die tuisspan is in omstredenheid gedompel met heelwat swak beslissings deur beide die skeidsregter en sy twee lynregters, wat veral die besoekers benadeel het.
'n Pragdrie deur Heibi sowat 10 minute voor die eindfluitjie geblaas het, is ook nie toegeken nie. Die ergste was die wendrie deur Bridgton in die laaste sekondes toe Heibi met 22-19 voorgeloop het.
'n Kommerwekkende faktor tot dusver is die gehalte van die wedstrydbeamptes se hantering van wedstryde. Vir kommentaar genader na die wedstryd, het Hennie Baardman, SWDRU president wat ook die wedstryd bygewoon het, erken dat Heibi die beste op die dag was en nie verdien het om te verloor nie. Vanaf die afskop het Heidelberg verwoed ingeklim en aanval na aanval geloods om behoorlik druk op die tuisspan te plaas.
Die tuisspan het egter die druk met behulp van die wedstrydbeamptes goed teengestaan om Heibi van hul doellyn weg te hou. Die besoekers het in die tweede helfte met mening teruggekom en moes Bridgton alles uithaal om hul aanvalle weg te keer.
Heibi het twee drieë deur Marcelino Manho en Jason Michaels aangeteken. Corbin Swartbooi het egter swak met sy skopskoen gevaar en kon net een van die twee drieë verdoel.
Vir Bridgton het Rupino Plaatjies die omstrede drie in die doodsnikke gedruk, terwyl Esau nog 'n strafskop bygevoeg het voor hy deur Vinchenzo Adams vervang is. Adams het ook met een strafskop geslaag.
In die eerste wedstryd van die dag het Bridgton se derdespan met 19-10 gewen nadat hulle rustyd met sewe elk gelykop was.
Die tuisspan se punte is deur Autrich Timmie, David Goliath en Graeme September elk met een drie aangeteken, terwyl Sidney Lucas en Brian Jonathan elk met 'n doelskop geslaag het.
Jadian September het Heibi se enigste drie aangeteken, terwyl Veandré Carelse met 'n straf- en doelskop geslaag het.
Heidelberg se tweedespan het die bordjies verhang en met 34-29 gewen nadat hulle rustyd met 22-17 agter was. Vir die wenners het Shirgené Swartbooi, Hugh Meyer, Roger Williams, Carlo Williams en Reagan Johnson elk 'n drie gedruk. Williams het ook een strafskop en drie doelskoppe bygevoeg
Die tuisspan se puntemakers was Chardone Fielies, Rupino Plaatjies en Enver Jackson wat elk 'n drie gedruk het, terwyl Charlseon Everts twee drieë gedruk het. Jacques Julies en Brett Wanies het elkeen met een doelskop geslaag.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'