Gallery
RIVERSDAL NUUS - As Stellenberg se eerste rugbyspan met groot aspirasies na Oakdale opgedaag het, is hul blink planne en oorwinningsdrome op 'n mooi Saterdagmiddag deur die tuisspan verydel.
Oakdale het dié kragmeting redelik maklik met 34 - 17 gewen.
In die eerste helfte was daar min tussen die twee spanne te kies, maar mens het tog 'n warm gevoel gekry dat Oakdale wel die oorhand sou kry. Dit het hulle inderdaad reggekry deur behoorlik vlam te vat in die tweede helfte en die besoekers tot oorgawe te dwing.
Oakdale se aanslae het soos stadige gif op Stellenberg se verdediging ingewerk en toe dit skietgee, het 'n paar mooi drieë gevolg.
Oakdale kon in die eerste helfte al die uitklophou geplant het, maar drie, vier belowende aanvalle op Stellenberg se doellyn is deur oorhaastigheid en swak hantering beduiwel.
FOTOGALERY: Oakdale vat vlam in tweede helfte teen Stellenberg
Malan du Plessis, hoofafrigter van Oakdale, was egter in sy skik met hoe sy spelers die tempo in die tweede helfte gelig het. "Ons het ons kanse beter benut en dit het op drieë uitgeloop. Die spoed waarmee die agterspelers die bal in gate geskuif het, was ook deurslaggewend.
"Ons het ook die lynstane tot 'n mate oorheers en vier van hul balle afgeneem en net twee verloor. Ons skrumwerk het ook heelwat in die tweede helfte verbeter. "
Malan sê die skoonmaak by die afbreekpunte is nog te stadig en hulle sal dit moet opskerp.
Vir die wenspan het Ramon Uys (flank) en Kobus Janse van Rensburg (senter) geskitter.
Kobus Janse van Rensburg (senter) was weer een van Oakdale se groot uitblinkers teen Stellenberg.
Ramon Uys (links met bal), uithaler-losvoorspeler van Oakdale, stamp 'n teenstander van Stellenberg af met sy spanmaats AJ van Vuuren en Francois du Toit (regs); kaptein van Oakdale, byderhand om hom te ondersteun. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'