HEIDELBERG RUGBYNUUS - Saterdag 14 Maart was 'n fees van rugby vir dié dorp.
Die SWD Arende het in 'n vriendskaplike wedstryd teen DHL-Westelike Provinsie (WP) gespeel, waarna Heidelberg in die tweede SWD-ligawedstryd van die seisoen teen George te staan gekom het.
WP het die Arende oorbluf op die veld gelaat met 'n eindtelling van 95-14. Hulle het alle fases van die wedstryd oorheers en na willekeur skrums en lynstane gewen. Die Arende kon geen teenvoeter hiervoor vind nie. Die rustydtelling was 45-14.
Na rustyd kon die Arende twee drieë druk, een deur kaptein Ruan van Rensburg en een deur Marquard September, beide deur Van Rensburg verdoel.
Die groot wedstryd was tussen Heidelberg A en George A, wat albei sterk spanne in die premierliga is. Vir 'n groot deel van die eerste helfte het dit gelyk of George vir 'n opskudding gaan sorg deur die gedugte Heibi op sy tuisveld te klop. George het eerste punte aangeteken met 'n onverdoelde drie deur Bretton Cupido. Die tuisspan het danksy goeie hardloopwerk amper onmiddellik met 'n drie van hul eie teruggeslaan. Die rustydtelling was 10-8 in Heidelberg se guns.
Na rustyd het George die pas verslap en 'n onverdoelde onderskepdrie deur Trevino Gordon het Heibi se voorsprong na 15-8 vergroot. Die besoekers het hierna hul spel aangepas en die verandering was dadelik merkbaar. George het die telling met 15 elk gelyk gemaak na 'n drie deur Jerome Claassen wat deur Christiaan Willemse verdoel is. In die laaste minute het Heidelberg die skroewe aangedraai en Corbin Swartbooi het met 'n skepdoel die eindtelling op 18-15 te staan gebring met net 'n minuut speeltyd oor.
Heidelberg se B-span het 'n reusetelling van 50-0 teen George B opgestapel. Nege drieë is gedruk: Berthal September (2), Hently Manho (3), Daylin Manho, Fernel Pretorius, Roger Williams en Dee Stevens. September het drie en Daylin twee van die drieë verdoel. September het ook twee lang strafskoppe oorgesit.
Die C-span was met rustyd 7-17 agter. Daarna het hulle die krane oopgedraai en die wedstryd met 25-17 gewen. Die angel in die span was die vleuel Junico Pieters wat met sy blitslopies langs die kant af en deur die middeveld die skare op hul voete gehad het. Carlo Williams het die telbord met sy akkurate doel- en strafskoppe besig gehou.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'