Die toernooi is die inisiatief van die voorsitters van die rugbyklubs van Albertinia, Riversdal Dorp, Seagulls van Stilbaai en Heidelberg. Die toernooi is ondersteun deur die SWD Rugby Unie, asook die Hessequa munisipaliteit. 'n Lid van SWD rugby se uitvoerende bestuur, mnr. Nicy Juta, het die reëlingskomitee ondersteun.
Albertinia rugbygronde was Saterdag, 9 Februarie reeds vroeg 'n miernes van bedrywighede toe jong kinders deur van SWD se Vodacom rugbyspelers in die kuns van basiese balvaardighede onderrig is. Hulle het die geleentheid terdeë geniet en die geleentheid aangegryp om nader kennis te maak met hul Vodacom helde.
Die kinders is later met eet- en drinkgoed getrakteer om hul dag af te sluit. Die SWD Arende beplan om meer sulke sessies te hou om basiese afrigting te stimuleer. Die president van SWD Rugby Unie, mnr. Hennie Baartman het 'n kort boodskap aan die toeskouers gegee waarna die uitvoerende burgemeester, raadslid Emor Nel haar boodskap gelewer het. Sy het die toernooi amptelik geopen en die eerste wedstryd kon begin.
Die onweerswolke en ligte reën het die geesdrif geensins gedemp nie. Die skare het hul spanne geesdriftig ondersteun en hard saamgepraat as hul span mooi bewegings uitgevoer of onnodige foute begaan het. Rangers se bestuur het daarin geslaag om 'n lekker feesatmosfeer om die veld te skep. Vure het gebrand en tot potjiekos is langs die veld voorberei.
Die B-spanne van Heidelberg en Seagulls het die toernooi geopen. Die wedstryd is deur Heidelberg met 6–0 gewen. Albertinia Rangers se B-span het met 31-12 gewen teen Riversdal Dorp B-span. Ten spyte van die reën het meer toeskouers na die veld gestroom om die onderskeie A-spanne in aksie te sien. In die eerste A-span wedstryd tussen Heidelberg en Seagulls was Heidelberg te sterk en wen Seagulls met 10–0.
Daar was groot toejuiging toe Rangers, die tuisspan op die veld draf om die span van Riversdal Dorp die stryd aan te sê. Hoewel Rangers te sterk vir die besoekers was, het Dorp moedig bly aanval en verdedig. Rangers wen met 17–9.
Die toernooi het afrigters kans gegee om hul spelers beter te leer ken en gereed te kry vir die Presidentsliga wat April begin. Spelers moet ook na die af seisoen wedstrydfiks raak en vertroud raak met die nuwe reëls wat dié seisoen van toepassing is.
Volgende been in Heidelberg
Saterdag, 16 Februarie verskuif die opwindende toernooi na Heidelberg sportgronde waar die vier spanne weer kragte gaan meet. SWD Rugby sien baie potensiaal in die nuwe reeks en is veral opgewonde dat jong spelers ontwikkel word om 'n liefde vir die sport te ontwikkel. (Jakkie Wessels, SWD uitvoerende bestuurslid).
Die spesiale rugbykliniek vir die jeug het byval gevind.