Rugby kliniek
Soos voor alle vorige wedstryde, is Saterdag se wedstryde ook voorafgegaan deur ontwikkelings klinieke wat deur SWD Arende spelers aan laerskool rugby spelertjies aangebied is.
Dié initiatief van die vier klubs, Albertinia, Heidelberg, Riversdal Dorp en Seagulls, was 'n wenner. Baie kinders het voordeel uit die initiatief gekry.
Die stimulering om aan sport deel te neem, beloof om kinders meer te laat fokus om aan sport en ander aktiwiteite aandag te gee. Soos een spelertjie agterna genoem het, die "Arende spelers moet nou oud raak dat ek vir die Arende kan speel!"
Finale
Die finale wat Saterdag aangebied was, het sekerlik weer 'n rekord getal toeskouers na die veld laat stroom. Dit was perfekte toeskouer weer en verskeie braaivleis vure het om die veld gebrand om aan die geleentheid die feeslike atmosfeer te gee wat dit verdien. Die bestuur van Riversdal Dorp verdien 'n klop op hul skouers vir die reëlings wat getref is.
Die aanvanklike doel van die toernooi was om die nodige ontwikkeling aan jong spelers te gee sowel as om die klubs se spelers, toeskouers en besture as 'n eenheid saam te snoer in die Hessequa streek. Toe die beker aan die wenner van die Hessequa Cup 2013, Heidelberg, oorhandig is deur die uitvoerende burgemeester, rdl. Emor Nel, was almal dit eens dat die toernooi sonder twyfel geslaag het in sy doel. Om te wen is altyd belangrik, maar gedurende die toernooi is vriende gemaak en samewerking bewerkstellig wat die klubs tot verdere hoogtes sal aanspoor.
SWD verwelkom Hessequa Cup toernooi
SWD Rugby Unie was bekommerd oor die lang aftyd tussen die einde van die Presidents liga totdat die volgende seisoen se ligas begin. Spelers het belangstelling verloor in rugby as daar sulke lang aftye was. Die vier klubs het eienaarskap van die probleem geneem en in samewerking met die Hessequa Munisipaliteit die Hessequa Cup beplan en aangebied. Dit was 'n groot sukses, in so 'n mate dat die verskeie partye onderneem het dat die Hessequa Cup ‘n permanente instelling moet wees, en ook uitgebrei moet word. Die sameroeper van die komitee, Mnr Nicky Juta asook die komitee lede, mnre. Eksteen (Rangers), Riddels (Seagulls), Jacobs (Riversdal Dorp) en Meyer (Heidelberg) het reeds aangedui dat hul uitsien om die volgende toernooi weer aan te bied.
Uitslae was as volg:
Seagulls B – 9, Riversdal Dorp B - 6
Heidelberg B – 11, Rangers B – 10
Riversdal Dorp A – 10, Seagulls – 9
Heidelberg A – 18, Rangers – 0.
Gekombineerde spanne teen Barbarians
Na afloop van die wedstryde is drie gekombineerde Hessequa spanne, wat uit die vier klubs saamgestel is, aangekondig om eerskomende Saterdag, 9 Maart, op Riverville teen die sterk Premier liga spanne van Barbarians (Mosselbaai) te speel. Dit beloof om aanskoulike rugby te wees.
Dankie!
SWD Rugby wil almal wat betrokke was by die sukses resep bedank vir hul opofferings, borgskap en harde werk. SWD Rugby sien ook uit om die goeie verhouding met die Hessequa Munisipaliteit te handhaaf en verder uit te bou ten einde die gemeenskap maksimum voordeel daaruit te laat kry. (Jakkie Wessels, uitvoerende bestuurslid, SWD rugby).
Die uitvoerende burgemeester van Hessequa, rdl. Emor Nel saam met die speler van die toernooi, John Prins. Foto's: Heinrich Fortuin.
Die naaswenners in die 2013 Hessequa Cup rugbytoernooi, die Albertinia Rangers.