HEIDELBERG NUUS - Heidelberg-rugbyklub, oftewel Heibi soos hulle alombekend is, het die afgelope naweek op hul tuisveld hul tweede vriendskaplike wedstryd teen Montagu met 33-26 gewen.
Met rustyd was die spanne gelykop op 19-19.
Die wedstryd het vanaf die afskop af vir sprankelende hardlooprugby gesorg en beide spanne het hul ondersteuners laat naels kou.
Die uitslag was tot in die doodsnikke in die weegskaal met die telling op 26-26, toe Eslin Noudt, Heibi-heelagter, met 'n verdoelde drie in die laaste minuut die wenpunte aangeteken het.
Die tuisspan se B- en C-spanne het onderskeidelik met 43-0 en 19-8 geseëvier.
Heibi speel Saterdag weg teen Swellendam.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’