HEIDELBERG NUUS - Heidelberg-rugbyklub het Saterdag 25 Maart hul tweede sege van die nuwe seisoen behaal toe hulle vir Maori's van George met 31 - 0 kafgedraf het.
Die rustydtelling was 12 - 0.
Albei spanne wou hul ondersteuners met mooi hardlooprugby vermaak, maar oorgretigheid en onnodige foute aan veral Heibi se kant, het die wedstryd van sy glans ontneem. Dalk was die tuisspan te oorgerus ná hul goeie vertoning teen Groot-Brakrivier.
Heibi het vyf drieë ingeryg en 'n waardevolle bonuspunt verdien.
Vir Heibi het Berthal September (losskakel) twee keer gaan druk, met Francois Pieters (senter), Fernell Pretorius (flank) en die kaptein, asook Marcelino Manho (stut) elkeen 'n drie aangeteken. September het ook met drie doelskoppe geslaag.
Heibi se C-span het met 26 - 12 koning gekraai nadat hulle rustyd met 12 - 5 voor was.
Heibi se puntemakers was Khulekani Mcwunu (flank) en Henry Arendse (stut) met twee drieë elk. Ashley September (losskakel) het drie drieë verdoel.
Heibe se tweedes het met 52 - 7 gewen nadat hulle met 28 - 7 rustyd voor was. Heibi het agt drieë ingeryg teenoor hul opponente se een drie.
Vir Heibi het beide Anrich Manho (senter) en Simon du Toit (slot) twee keer gaan druk, terwyl Shirgené Swartbooi (skrumskakel), Stephano Baron (agtsteman), Leigh-Roskey Domingo (haker) en John-Wayne Jantjies (stut) elkeen een drie gaan druk het. Carlo Williams (regtervleuel) het met ses doelskoppe geslaag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’