HEIDELBERG NUUS - Heidelberg het Saterdag hul vierde agtereenvolgende sege van die seisoen behaal deur Bridgton tuis met 25 - 13 te klop.
In teenstelling met verlede jaar se wegwedstryd waartydens Heibi sprankelende hardlooprugby opgedis het, was dit die keer seker een van sy mees onoortuigende seges, en dit nogal voor sy tuisskare.
Die besoekers was ook nie te waffers nie en niemand sal stry dat dié kragmeting maar bra vervelig was nie. Albei spanne is immers bekend vir hul hardlooprugby.
Beide spanne het gesukkel met beserings by sleutelspelers en dit het waarskynlik bygedra tot die ontwrigting.
Charlston Ewerts, Bridgton se blitsige linkervleuel, en Francois Pieters, Heibi se kaptein en uithalersenter, het uitgestaan. Ewerts het elke keer wat hy besit gehad het die tuisspan laat bontstaan. Pieters het in die tweede helfte goed vier, vyf verdedigers na lug laat gryp om die mooiste drie van die wedstryd in die linkerhoek te gaan druk.
Benewens Pieters se drie, het Marcel Marais (skrumskakel) en Berthal September (heelagter) ook gaan druk. September het twee strafskoppe en een doelskop bygevoeg, terwyl Jameson Meyers (losskakel) met een doelskop geslaag het.
Heibi se C-span het met 23 - 15 koning gekraai nadat hulle rustyd met 20 - 10 voor was.
Heibi se puntemakers was Trevino Gordon (senter) en Eldon Januarie (skrumskakel), elkeen met 'n drie en Ashley September (losskakel), wat drie straf- en twee doelskoppe aangeteken het.
Die wedstryd tussen die tweede spanne het die tuisspan gemaklik met 29 - 3 gewen nadat hulle rustyd met 8 - 3 voor was.
Heibi se puntemakers was Andrew Appollis (agsteman) met twee drieë, Reginald Salmon en Vuyo Johannes, albei senters, wat elkeen vir 'n drie oorgegaan het. Carlo Williams (regtervleuel) het met drie doelskoppe en een strafskop geslaag.
Heibi is nou na vier wedstryde saam met Evergreens in die eerste plek met 18 punte elk. Die twee pak mekaar Saterdag in Pacaltsdorp en 'n titaniese stryd word verwag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’