Update
SUID-KAAP NUUS - Die vreugdevure het Saterdag-middag 26 Augustus hoog in Heidelberg se rugbykamp gebrand nadat hulle vir George in die Presidentsliga-eindstryd op Outeniquapark met 28-20 geklop het.
Die wenspan het aanskoulike hardlooprugby gespeel en vier pragdrieë gedruk. In die tweedeliga-eindstryd het Heidelberg ook vir George in 'n naelbytstryd met 18-17 getroef. Heidelberg speel volgende jaar dus in die Premierliga nadat hy in 2008 laas daar deelgeneem het.
Die skeidsregter, Francois Davids, het in die eerste helfte van die wedstryd vir Simon du Toit en die oud-Arend, Lyndon Hartnick (agtsteman), albei van Heidelberg, met geelkaarte van die veld gestuur.
Die wenspan se 26-jarige spoedvraat, Gershom van Rooyen (regtervleuel), het die groot skare op hul voete gehad met sy spoed en voorgevoel vir die spel. Van Rooyen, wat twee pragdrieë gedruk het, is aangewys as speler van die wedstryd.
Corbin Swartbooi (heelagter), Fernoldt Buis (linkervleuel), Jason Liebenberg (losskakel) en senterpaar Denver Lutz en Anrich Manho het ook uithalerspel vir die wenspan gelewer en getoon dat hulle hul man sal kan staan in die Premierliga.
Voorlangs het hul flanke, Mark Meyer en Fernell Pretorius pragspel gelewer. Hul spoed na die afbreekpunte en rotsvaste verdediging het hul span op die wenpad geplaas.
George se beste speler was ongetwyfeld hul agtsteman, Logan Vorster. Vorster, wat sy span se eerste drie gedruk het, het 'n barshou gespeel in die vastelos.
Hy is definitief 'n talentvolle speler wat nog diep spore in SWD-rugby kan trap. Quinton Petzer (loskopstut) en Jacques Bothma (slot) het ook die oog gevang. In die middelveld het hul senterpaar, Chris Kruger (kaptein) en Ashwin Heyns, baie goed saamgespeel. Op die aanval en verdediging het hulle Heidelberg baie probleme besorg.
Heidelberg ondersteuners sing uit volle bors om die A-span aan te moedig. Foto: Clive Pretorius. korrespondent
Uitslae en puntemakers
Heidelberg A (28): Drieë - Gershom van Rooyen (regtervleuel, 2), Marcellino Manho (loskopstut) en Mark Meyer (flank); doelskoppe - Corbin Swartbooi (heelagter, 2) en Jason Liebenberg (losskakel, 2).
George A (20): Drieë - Logan Vorster (agsteman), Chris Kruger (binnesenter en kaptein) en Syseko Miggels (plaasvervangervleuel). Doelskop - Nathan Scott (heelagter). Strafdoel - Meyer Janse van Rensburg (losskakel).
Heidelberg B (18): Drieë - Carlin Wewers (agtsteman) en Regan Geldenhuys (slot). Doelskop - Carlo Williams (regtervleuel). Strafdoele - Williams (2).
George B (17): Drieë – Quinton Mooiman (buitesenter) en Niel Muller (slot). Doelskoppe - Ruan Lesch (losskakel, 2). Strafdoel - Lesch.
Lees 'n vorige artikel: Vreugdevure brand hoog op Heidelberg
ARTIKEL: ANDRÉ STANDER, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Suidkaap nuus'