Gallery Update
HEIDELBERG SPORT NUUS - Die plaaslike rugbyklub het Saterdag 6 Mei, ongeag die hartseer afskeid van een van hul grootste ondersteuners, Heleceen February, hul tuiswedstryd teen George, nuwelinge in die premierliga, met 28-21 beklink.
Die spanne het met die telling op 18-14 in die tuisspan se guns gedraai. Dié wen vir Heibi was seker van die soetste seges tot dusver, omdat February se skielike dood as 'n groot skok gekom het. Sy het week na week uit haar pad gegaan om hul wedstryde by te woon.
Heibi se blaasorkes het ook vir die eerste keer die seisoen hul verskyning gemaak om haar nalatenskap te vier.
Heibi het feitlik alle fasette van die spel oorheers en sou beter gevaar het indien hulle al hul balbesit positief gebruik het. Verkeerde besluite het belowende bewegings laat skipbreuk ly. Die tuisspan se eerste punte is, soos verlede week teen Bridgton, met 'n drie deur Corbin Swartbooi in die tweede minuut aangeteken. Hy kon egter nie die drie verdoel nie. George het hul eerste punte in die vyfde minuut met 'n drie deur Terence Venter behaal. Henry Wolhuter het dit verdoel om die besoekers te laat voorloop. Kort daarna het Heibi weer die voortou geneem toe Swartbooi met twee strafskoppe, skaars 10 minute uit mekaar, slaag. Sy broer, Shirgené, het die telling vergroot toe hy na 'n mooi beweging die eerste van sy twee drieë in die 33ste minuut druk.
George het in die laaste minuut voor rustyd geskitter met 'n mooi drie deur hul kaptein, Francois Kemp. Wolhuter het dit verdoel, om net twee punte agter te wees.
Die eerste punte in die tweede helfte is weer deur die tuisspan se Shirgené met 'n drie aangeteken, wat deur Corbin verdoel is. George het met 'n drie deur Helmo Gericke in die 75ste minuut geantwoord, wat deur Wolhuter verdoel is om die telling na 25-21 te skuif. Volgehoue druk deur Heibi het 'n strafskop afgedwing, wat Corbin in die doodsnikke van die wedstryd sekuur deur die pale gestuur het.
- In die eerste wedstryd van die dag het George se derde span naelskraap met 8-7 gewen nadat hulle rustyd met 5-0 voor was. Heidelberg se tweede span het met 39-12 gewen nadat hulle rustyd met 17-9 voorgeloop het.
Shirgené Swartbooi, Heibi heelagter, druk sy tweede drie met sy spanmaat, Yoann Hoiban in ekstase agter hom. Foto: Heinrich Fortuin, korrespondent
Lees 'n vorige artikel hier: Heibi wen vir February
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'