HEIDELBERG NUUS - Heibi het Saterdag 16 Junie al drie hul tuiswedstryde teen Blanco gewen.
In teenstelling met hul eerste ronde wegwedstryd waar hulle net-net met 30-27 deurgeskuur het, het hulle dié keer met 38-7 koning gekraai. Die rustydtelling in die SWDR Premierligawedstryd was 24-7.
Hoewel die tuisspan redelik gemaklik gewen het, moet dit genoem word dat die unie ernstig na die standaard van die skeidsregters moet kyk om onnodige probleme in die toekoms uit die weg te ruim.
Die objektiwiteit van die skeidsregter wat die eerstespanwedstryd hanteer het, het na die eerste 20 minute van die wedstryd sterk twyfel onder veral die tuisspanspelers, bestuur sowel ondersteuners gesaai.
Die tuisspan was na 20 minute met 24-0 voor. Drieë deur Marquit September (senter) in die vierde minuut, Jason Liebenberg (losskakel) in die agtste minuut en Simon du Toit (slot) in die 19de minuut het dié voortou verseker.
Corbin Swartbooi het al drie drieë verdoel en ook met 'n strafskop geslaag.
Net hierna het die skeidsregter die tuisspan vier geelkaarte gegee, teenoor net een rooikaart in die laaste vyf minute van die wedstryd, teen die besoekers.
Die rooikaart van die besoekers was vir 'n gevaarlike hoogvat op Swartbooi, wat katswink na die hou oor sy kop was. Hy moes die veld op 'n draagbaar verlaat.
Die tuisspan het nog twee drieë in die tweede helfte gedruk om die belangrike bonuspunt in te samel. Jason Michaels het gaan druk en September het in die laaste minuut vir 'n drie geduik.
Swartbooi het Michaels se drie verdoel, terwyl Pietie Uys (reserwe heelagter) die ander een verdoel het. Heibi se lynstaanwerk was by tye goed, maar hulle sal nog meer aandag hieraan moet skenk. Hul verdediging, veral, hul "first time tackling" moet ook opgeknap word.
Corbin Swartbooi het al drie drieë verdoel en ook met 'n strafskop geslaag.
Heibi se ondersteuners het weereens hul passie om hul span te ondersteun bewys deur in hul hordes op te daag. Hulle het weer die paviljoen laat dreun met hul singery, met behulp van hul nou bekende blaasorkes. Die eerste wedstryd tussen die derde spanne het hulle met 29-7 gewen nadat hulle rustyd met 12-7 gedraai het.
Die tweede span het 'n wegholoorwinning van 66-0 behaal, nadat hulle rustyd met 26-0 voorgeloop het. Puntemakers was Shirgené Swartbooi en Carlo Williams wat elk twee keer gaan druk het.
Yoaan Hoiban, Johannes Kleynhans (stut), Clive Michaels (kaptein), Denovan Riddles, McDonald Marais en Hughgan Meyers het elkeen een drie gedruk. Williams het agt van die tien drieë verdoel.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'