HEIDELBERG RUGBY NUUS - Die plaaslike rugbyklub het Saterdag 31 Augustus Silver Stars-rugbyklub se laaste hoop op oorlewing in die SWD Premierliga heeltemal uitgewis toe hulle die tuisspan op Rosemoor met 53-17 verslaan het.
Heibi kon in die eerste helfte net nie rigting kry nie en die tuisspan het rustyd met 17-12 voorgeloop.
Na rustyd het Heibi se voor- en agterspelers meer doelgerig saamgespeel en sewe drieë ingeryg om 'n waardevolle bonuspunt te verdien.
Heibi se BG Uys en Marquit September het elk twee keer gaan druk, terwyl Shirgené Swartbooi, Anrich Manho en Gerhard Geldenhuys elk ook een drie gedruk het. Eslin Naudt het met twee straf- en ses doelskoppe geslaag. Heibi se derde span het naelskraap met 14-13 gewen na hulle rustyd met 5-0 voor was. Puntemakers was Clyde September met twee drieë, wat albei deur Veandré Carelse verdoel is.
Die tweede span het hul wedstryd redelik maklik met 43-15 gewen na hulle rustyd met 31-10 voorgeloop het. Hulle het ses drieë behaal waarvan Roger Williams twee gedruk het. Carlo Williams, Rudolph Rossouw, Daylin Manho, Branville Human en Deslin Roberts het elk ook een drie gedruk. Williams het vier drieë verdoel.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'