RIVERSDAL NUUS - Riversdal Blues se gesukkel teen die groot kanonne in die SWD Super A-liga is nog lank nie verby nie. Saterdag wag die kampioen, Crusaders, in George op hulle en dis dalk 'n hekkie wat veels te hoog gaan wees om te oorkom.
Tog behoort dié vooruitsig as sterk motivering te dien vir die Blues om bo hul vermoëns te speel. Daar is geen druk op hulle om te wen nie en niemand verwag dit nie.
Trouens, Crusaders, wat moet oorloop van selfvertroue ná hulle Progress verlede naweek behoorlik afgeslag het, kan dalk sukkel om hulself te motiveer teen een van die agterosse in die liga. En die feit dat niemand die Blues 'n kans gun nie, kan dalk in hul hand speel. Oorgerustheid het al groot spanne lelik laat sukkel en selfs laat struikel.
Die Blues moet die wedstryd met 'n positiewe ingesteldheid benader en ook met passie speel. Dis nie asof Crusaders nie geklop kan word nie hoewel dit 'n grootse poging gaan verg.
Verlede Saterdag het Groot-Brak met sy groot gewigsvoordeel voorlangs nie die Blues geheel en al oordonder in Riversdal nie. Ja, die besoekers se wentelling van 24 - 7 lyk maar goor, maar daar was 'n hele paar positiewe dinge wat Blues uit die wedstryd kan haal.
Sy pak voorspelers het beslis hul spelpeil verhoog al het hulle teen 'n oormag baklei. En dis in veral die lynstane waar die Blues dramaties verbeter het met natuurlik gereelde eerstespanspelers weer terug van hul beserings af.
Hul dryfmaalbewegings het ook goed gewerk en selfs tot 'n drie vir die Blues gelei. Om op te som: die Blues is darem nie verneder nie en was heeltyd mededingend.
Op dié trant kan hulle dalk 'n supervertoning teen Crusaders lewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’