RUGBY NUUS - Die oomblik van waarheid het aangebreek vir die drie Hessequa-rugbyspanne wat Saterdagmiddag op Outeniquapark in twee eindstryde om bekerglorie meeding.
Heidelberg pak die kampioen, Crusaders, om die Super A-titel terwyl Riversdal Blues en Albertinia Rangers in die Super B-afdeling sake sal uitspook.
Ekstase wag op die wenners; die verloorders sal maar druipstert huis toe moet gaan. Dis nou nie dat die verloorder se seisoen goor was nie, allermins. Om die eindstryd te haal, bewys darem iets of hoe? Die geneuk is net dat toeskouers en ondersteuners verkies om op die wengolf te klim en dit behoorlik te ry. Dié wat afgeval het, gly tot in die vergetelheid. Probeer maar weer.
Hulle sê mos as jy - of jou span - wen, dan smaak goedkoop wyn soos die duurste sjampanje en jou vrou lyk soos Mej. Wêreld.
Die goeie nuus is natuurlik dat die Super B-beker in Hessequa - óf Riversdal óf in Albertinia - gaan staan. Die selfsugtiges sal sê "makie sakie, solank dit na Hessequa toe kom." Die toeskouers sal reken "aikôna, ons het ons kele hees geskreeu en kilometers agter ons span aangery. Daai beker kô huis toe."
So, een beker is in die sakkie en so skuins voor vieruur Saterdagmiddag sal ons weet wie die nuwe Super B-kampioen is.
Maar dis die hoofwedstryd om 16:00 wat die meeste belangstelling gaande sal maak. Dis immers die SWD se topklubtitel en baie is op die spel. In hul laaste kragmeting was die telling gelykop met 22 elk. Dit was in Heidelberg en daar wen besoekende spanne selde.
Nou is dit neutrale grond vir albei spanne. Gordel vas. Hier kom 'n gróte!
Naskrif vir Eskom: as julle Saterdag fase-10 beurtkrag moet toepas, skakel al die krag in Heidelberg af. Goed driekwart van die dorp gaan opruk na George om die beker te gaan haal. Tussen daai vier wit lyne op Outeniquapark gaan genoeg krag opgewek word om die Suid-Kaap én Hessequa se ligte vir ses maande aan te hou.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'