HEIDELBERG RUGBY NUUS - Die plaaslike rugbyklub het Saterdag 11 Mei hul derde agtereenvolgende sege behaal toe hulle hul tuis premierliga-wedstryd teen Blanco met 38-7 gewen het. Heidelberg het rustyd met 14-7 voorgeloop.
Die eerste punte van die wedstryd is in die sesde minuut met 'n drie deur Heibi se regtervleuel, Shirgené Swartbooi, aangeteken. Sy broer, Corbin het dit verdoel.
Blanco het kort daarna met 'n drie deur Siya Ngxesha teruggeslaan, wat deur Gueswin Wildemans verdoel is.
Heidelberg het weer in die 25ste minuut die voortou geneem toe Corbin na mooi samespel tussen hom en Shirgené, laasgenoemde gaan druk en Corbin dit verdoel. Die spel het in die laaste 15 minute van die eerste helfte slordig geraak met albei spanne wat onnodige foute begaan het.
Na lemoentyd was Heibi meer doelgerig en Simon du Toit het die eerste van sy twee drieë in die 52ste minuut gedruk. Kort daarna het Gershom van Rooyen vir 'n drie in die linkerhoek oorgegaan, maar die twee doelskoppe het misluk. Du Toit het sy tweede drie in die 70ste minuut gedruk, wat deur Eslin Naudt, jong losskakel, verdoel is.
Francois Pieters, senter en ouer broer van Eslin het in die laaste minuut sy span se sesde drie gaan druk, wat deur laasgenoemde verdoel is om sy span se sege te beklink.
In die eerste wedstryd van die dag het Heibi se derde span naelskraap met 15-13 gewen nadat hulle rustyd met 6-3 agter was. Puntemakers was Alvin Swanepoel met 'n drie, 'n doel en strafskop, asook Michael Jacobs wat 'n drie gedruk het.
Heidelberg se tweede span het hul wedstryd maklik met 62-11 gewen nadat hulle rustyd met 24-11 voorgeloop het. Hulle het 10 drieë ingeryg, met Carlo Williams, Roderick Februarie en Branville Human wat elk twee drieë gedruk het en Roger Williams, Daylin Manho, Deslin Roberts en Alvin Swanepoel een elk.
Carlo het met vier en Swanepoel met twee doelskoppe geslaag.
Vir Blanco het Enrico Treurnicht 'n drie gedruk. Chesray Smit het met twee strafskoppe geslaag.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'