RUGBYNUUS - Fisieke oorheersing hou die sleutel in tot sukses vir Saterdagmiddag se derby tussen Heidelberg en Riversdal Blues.
Kyk mens na dié twee spanne se vertonings die seisoen en hul plekke op die puntelys, sal enige beroepswedder wat sy sout werd is groot geld op Heidelberg verwed om dié stryd te wen.
Heidelberg lê gesamentlik tweede op die puntelys met Evergreens, maar spog met 'n beter punteverskil. Die Blues is die agteros in die Super A-liga.
Die onnutsigers reken dis 'n geval van Dawid teen Goliat met kleine Dawid wat nie 'n kat se kan staan om dié tweegeveg te wen nie.
Heibi se pak voorspelers sal bitter moeilik getem word, terwyl die Blues vanjaar voorlangs soms klippe gekou het. Heibi se fisieke teenwoordigheid het die meeste spanne in dié liga tot oorgawe gedwing. Die Blues se agttal sal dit minstens moet ewenaar as hulle enige wengedagtes koester.
Heibi sal sy fisieke aanslag waarskynlik toespits in die skrums en rolmaalbewegings. As hulle die skrums oorheers en met hul rolmale vorentoe gaan, sal hulle bitter moeilik gestop word. En met hul besielende kaptein, Lyndon Hartnick, wat die vuur onder sy voorspelers stook, sal die Riversdallers hul keer moet ken.
As die Blues nie 'n antwoord het op die tuisspan se fisieke aanslag nie, gaan dit 'n baie lang middag in Heidelberg word. Dis eintlik eenvoudig: die span wat die fisieke botsings wen, gaan uiteindelik die derby wen.
Of die Blues dit in sy tenk het om krag met krag te beantwoord, sal binne die eerste 20 minute beantwoord word. Die besoekers kan hulself voorberei dat Heibi van die afskop af met 'n verwoede aanslag gaan kom.
Agterlangs kan die Blues op gelyke voet meeding. Die span het vaart en 'n paar sterk baldraers. En in Wilbur Janaury het die Blues 'n wedstrydwenner met 'n dodelike skopsvoet. Maar nou ja, een swaeltjie maak nie somer nie.
Slim besluite, rotsvaste verdediging en 'n spanpoging waarin elke speler vir 80 minute 101% gee, is wat dit van die Blues gaan verg om die tuisspan se aanslag af te weer.
Dawid kan dalk wéér vir Goliat wen...
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’