RIVERSDAL NUUS - Blues se A-span het Ladysmith 'n behoorlike drag slae gegee en altesaam 10 drieë gedruk en die wedstryd met 62-20 gewen.
Hoewel Riversdal Blues Saterdag 5 Mei met 'n verswakte A-span gespeel het, is die tuisskare met pragtige hardlooprugby vermaak.
Blues het van die afskop vir Ladies gewys hulle is nie hier om punte af te staan nie.
Voor- en agterspelers het goeie rugby gespeel. Die bal is wyd gespeel en die drieë is ingeryg. Die A-span senter, Andrew Jacobs was weer briljant in die middelveld en het 'n driekuns aangeteken. Die spoedvraat vleuel, Austin Sefoor was kort agter hom met twee drieë. A-span puntemakers was Delano Jacobs, Andrew Jacobs, Gavin Kortje, Mattlin Fielies, Johnny Elbrink, Derick Daniels en Austin Sefoor.
Blues se B-span het ook gewys wat in hulle steek en hul opponente behoorlik laat stof eet. Hulle het 11 drieë aangeteken en die wedstryd met 74-3 gewen.
Volgens die afrigter, Marvin Kortje is sy span onoorwonne en bo-aan die punteleer. Hy is tevrede en opgewonde oor die manier hoe sy voor- en agterspelers as 'n span saam speel. Kortje het die losvoorspeler, Deon van Eeden uitgesonder en genoem dat hy 'n doring in die Ladysmithers se vlees was. Hy is ook as speler van die wedstryd aangewys.
Die losskakel, Willem Hendricks het hom met sy taktiese skopvermoë goed van sy taak gekwyt.
Puntemakers was Heinrich Abrahams, Dawid Fransies, Jossie van Eden, Pat Flink, Michael Hendricks, Nikki Sedi, Joniel du Plessis en Peter Jansen.
Die volgende wedstryd is teen Van Wyksdorp weg.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'