HESSEQUA NUUS - Met die rugbyseisoen om die draai het Riversdal-rugbyklub in hul laaste vriendskaplike wedstryd, voor die seisoen begin, op hul tuisveld gewys dat hulle reg is om enige span in SWD Presidentsliga opdraande te gee.
Riversdal vee Seagulls met 55-17 plat en druk in totaal nege drieë. Die voorspelers het baie goed saam met die agterspelers gekommunikeer en die bal wyd gespeel en dit in punte omskep.
Die sterk senter, Jacobus Esau, het binne vyf minute sy span se eerste drie aangeteken.
Seagulls het self met 'n paar gevaarlike lopies vorendag gekom, maar kon net nie die bal vinnig genoeg by die vleuels kry nie.
In teenstelling daarmee het die tuisspan alles reg gedoen en die afrigters kon nie vir 'n beter wedstryd gevra het om hulle 22 man vir die seisoen aan te wys nie.
Die agterspelers Jean Horn, Jacobus Esau, Peter Elbrink en Jacques Damons het baie gevaarlik met die bal met bal in die hand voorgekom.
Riversdal se voorspelers het self ook goed vertoon en soos 'n stoomtrein vorentoe gestoom.
Dorp se drieë is aangeteken deur Jean Horn (1), Duncan Fransies (1), Jacobus Esau (2), Peter Elbrink (2), Jacques Damons (1), Jacobus De Bruin (1) en Abreu
Pietersen (1). Damons (losskakel) het die res van die punte met sy skopskoen aangeteken. Riversdal se B-span het ook hulle teenstanders gemaklik met 22-7 geklop.
Seagulls skop hulle eerste ligawedstryd teen Blues van Riversdal af.
Blues word as die gunsteling beskou, maar sal 'n fout maak om Seagulls te onderskat.
Beide spanne sal alles in die stryd plaas vir 'n goeie begin in die liga.
Blues se afrigter, Ryno Jacobs, sal vanselfsprekend sy beste span opstuur om die besoekers in toom te hou.
Hulle beskik tans oor 'n goeie agterlyn en Seagulls sal alle gate moet toestop.
ARTIKEL & FOTO: HEINRICH FORTUIN, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'