RIVERSDAL NUUS - Dit was weer die pou bloues van Riversdal wat vir 'n groot opskudding gesorg het toe hulle Saterdag 16 Junie tuis die Arrows van Slangrivier in 'n SWD Presidentsligawedstryd 'n loesing van 27-9 gegee het.
Blues, wat bekend is vir sy pragtige hardlooprugby, het vier keer agter die doellyn gekuier en sodoende ook weer 'n bonuspunt ingesamel.
Toeskouers het Riverville-stadion volgepak en hulle het elke oomblik van die wedstryd geniet. Dit lyk of daar geen keer aan die Dallers is nie omdat elke wedstryd met oorgawe gespeel word.
Selfs die B-span van Blues het weer verwoesting gesaai met 'n telling van 70-12. Volgens Marven Kortze, afrigter van Blues se B-span was dit nie 'n goeie begin vir sy span nie, want die besoekers het hulle onder geweldige druk geplaas.
Die besoekers is 'n paar minute later met 'n drie beloon. Maar die kaptein, Deon van Eden van Blues, was kalm en het die druk van die besoekers verwerk. Daarna was dit net drieë wat gedruk word.
Die kaptein het homself met vier drieë beloon en is ook as speler van die wedstryd aangewys.
Gerhard Visser, voorsitter van Blues-rugbyklub het gesê: "Namens die klub wil ek die burgemeester, Grant Riddles, bedank vir die nuwe skrummasjien."
Volgens Visser het die burgemeester nie gehuiwer om sy hand in sy sak te steek nie en het op Saterdag 16 Junie die skrummasjien aan die klub oorhandig. Hy het ook gesê Blues se bestuur onderneem om in samewerking met enige organisasie hande te vat en sodoende dwelms in die gemeenskap hok te slaan.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'