RIVERSDAL NUUS - Jy kry soms 'n afdag terwyl jou teenstander nie 'n voet verkeerd kan sit nie. Verlede Saterdag was beslis nie 'n goeie dag vir Oakdale se eerste rugbyspan nie en hy moes die knie teen Paarl Gimnasium buig wat op alle silinders gevuur het.
Gimnasium het 'n oorwinning van 42 - 3 oor Oakdale behaal nadat hulle rustyd met slegs 7 - 3 voor was.
Niemand sal dit betwis dat die Paarliete die beter span op die veld was nie. Hul voor- en agterspelers het goed gekombineer, maar dis veral agterlangs waar die besoekers met bekwame spoed aangeval en Oakdale se verdediging deeglik getoets het.
Oakdale het gesukkel met ingooie in die lynstane en kon hier baie beter keuses uitgeoefen het. Die twee vaskoppe wat hulle in die eerste helfte afgestaan het, het hulle verder onder druk geplaas.
Klipharde verdediging was 'n kenmerk van die kragmeting tussen Oakdale en Paarl Gimnasium. Hier word die tuisspan se André Goedhals omgedop.
Malan du Plessis, hoofafrigter van Oakdale, het aan Suid-Kaap Forum gesê daar is geen verskoning vir dié nederlaag aan te bied nie. "Dit was vir ons 'n slegte dag op kantoor en Gimnasium, een van die beter skolespanne, het ons welverdiend gewen.
"Ons kon die wind baie beter gebruik het. Maar ons gesukkel in die lynstane het ons spoed gebreek. Ons moes dit beter afgewissel en veral meer kort lynstane ingespan het. Maar alle krediet aan Gimnasium. Hulle was die beste span op die veld."
Vir Oakdale het sy besielende kaptein, Francois du Toit, sy hart uitgespeel terwyl Therlow Prins (vleuel) ook die oog gevang het.
Ramon Uys (flank) word deur twee spelers van Paarl Gimnasium in 'n knyptang vasgevang.
AJ van Vuuren (slot) probeer deur 'n gaping sny met die bal.
James Jonker (met bal) word in sy spore gestuit.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'