TUINROETE | HESSEQUA SPORT NUUS - Van die groot witsteenbrasse ruk die visstok soms byna uit jou hande en daardie aanvanklike afstroop van maklik 50 m lyn van jou katrol, is nie bedoel vir ouens met 'n swak hart nie.
Geen wonder daar word ook na hulle as 'n "sneltrein" verwys nie. Behalwe sy verbete bakleivermoë is die witsteenbras (steenies) 'n eetbare vis duisend en derhalwe baie hengelaars se gunsteling.
Gewilde plekke
Om hierdie vinnige, kragtige menere vas te trek, wend jy jou tot 'n sandkus. In die Suid-Kaap is Kanonstrand, Danabaai, die sandkus in die Glentana-omgewing en Kleinkrantz naby George in die rigting van Gonnas van die beste plekke. Deeglike waarneming vanaf 'n redelike hoë punt is nodig om op die beste vangplek te besluit. Die tipiese formasie waar hengelaars graag gooi, is die van 'n sandbank met 'n aangrensende dwarssloep aan die land se kant. Tydens gunstige toestande veroorsaak die branders 'n konstante wit, bruisende water op die sandbank. Krewels, krappies, wurms en witmossels word hier losgespoel en verder oor die drop-off gevoer tot in die dieper water van die aangrensende sloep. Steenbras wat gewoonlik sy kos uit die sandbodem blaas, hang dus instinktief hier rond vir pasellas. Gooi hier met die inkomende gety. Rondom hoogwater is baie goed. Vlak sandstrande naby riviermondings ook uitstekende plekke om te probeer.
Aas
Bloedwurm, sand- en modderkrewels en die bekende vaal sandkrap is van die gewildste ase. Baie steenies is ook al aan witmossel en sandrooiaas gevang. Hengelaars wat met sardyn en gekapte tjokka vir kabeljou probeer, vind heel dikwels dat witsteenbras ook hierdie aas opraap. Ook wonderwurm, potlood-aas en maanskynwurm sal nie maklik geïgnoreer word nie. Hierdie visse is ook nie skaam om hulle soms trommeldik te vreet nie. Ek het by geleentheid 'n groot witsteenbras by Die Knyp naby George gevang. Dié vis het soveel sandkrap in sy pens gehad dat ek vandag nog wonder hoe hy kans kon sien vir die sandrooiaas aan my hoek.
Hengeltoestande
Witsteenbras kan dwarsdeur die jaar verwag word, maar daar is 'n duidelike oplewing tydens die lente- en vroegsomermaande. Dan ook weer tydens herfs. Mooi lewendige water met sandbanke wat duidelik uitgeken kan word is ideaal. Die wittes is ook meer aktief in koeler water van so 15 – 17ºC. Vroegoggend en laatmiddag, veral as dit saamval met hoogwater is 'n baie goeie tyd.
Gerei
So lig as moontlik. Op suiwer sandbodem kan 'n baie ligte lyn (0.40 – 0.45 mm) met 'n voorslag van so 0,60 mm gebruik word. Met rotse in die omgewing word 'n hooflyn van so 12 kg breeksterkte gebruik. In die geval van vleglyn (braid) is 20 lb of 30 lb die antwoord. Eindgerei is glysinkergerei. Hoekgrootte is 3/0 – 5/0. In stil tot effens woelige water word 'n koniese sinker gebruik en in sterk water 'n grypsinker.
Van die aanvanklike woeste loop is reeds melding gemaak. Wees deurentyd versigtig, veral dat jou rem nie te styf gestel is wanneer die vis skielik op loop gaan nie. Oppas as hy naby die kant kom. Om hom te probeer vashou in die terugtrekkende water kan fataal wees. Put hom heeltemal uit en speel hom dan saam met die water uit.
Galjoen
Augustus is die hart van die galjoen-seisoen. Benut dit vir 'n vette op die kole.
Witsteenbras.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'