HESSEQUA SPORTNUUS - Western Flyers van Slangrivier het Sondag, 21 November die eindronde in die Hessequa-dominoliga teen hul aartsvyande, Young Stars, ook van Slangrivier met 53-46 gewen.
Die telling was teen halftyd in Young Stars se guns met 34-26 en dit het voorgekom of hulle die wedstryd sou wen, maar hulle het nie met Handré Hartnick en Johannes Amsterdam rekening gehou nie.
Hulle teken saam 18 punte aan, wat tot Western Flyers se oorwinning bydra.
Die twee spelers word ook as spelers van die wedstryd aangewys.
Dit is die tweede keer dat hierdie twee spanne teen mekaar in 'n eindstryd te staan kom. Die vorige keer was voor Covid-19 in 2019 toe Western Flyers ook met die louere weggeloop het.
In die wedstryd tussen Nietverloren van Albertinia en Klipdrifhoogte van Riverdal wen die Albertinianers naelskraap met 38-34.
Die spelers van die wedstryd was Johannes Carelse en Fred Carelse.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'