HESSEQUA NUUS - Twee plaaslike renbootjaers, Hugo Erasmus en Raynor Becker het al die pad na Monte Carlo, Monaco, gereis om hul 'Union Internationale Motonautique' (UIM)-toekenning te ontvang.
Spanne en individue wat wêreldtitels in hulle verskillende afdelings verkry het, is tydens die UIM-toekenningsaand op Saterdag 23 Maart vereer. Die UIM se doel is om alle kragbootsportsoorte te ondersteun en bevorder.
Becker van Stilbaai en sy medejaer, Erasmus van Riversdal, het drie wêreldkampioenskaptitels in die Pro Stock-klas tydens die wêreld kragbootkampioenskap in Frankryk verlede jaar ingepalm.
Die geleentheid het vanaf 30 September tot 8 Oktober by Frejus plaasgevind. Hulle is as die 'Surf'-, Longhaul'- en 'Circuit'-kampioene aangewys, terwyl hulle ook die algehele wenners was.
"Dit was vir ons 'n spesiale oomblik omdat dit die 10de UIM-toekenningsgeleentheid was waarvan ons deel kon wees.
"Ons is trots op die toekenning en hoop ons kan weer in die toekoms ons land, ondersteuners en borge trots maak," het Erasmus vertel.
Hoewel hulle net 'n kort tydjie in Monaco kon deurbring, het hulle op die Formule-1 baan gaan stap en besienswaardighede besoek. Hulle is reeds terug in Suid-Afrika.
Die nasionale seisoen het al begin en op 9 Mei sal een van dié wedrenne op Stilbaai plaasvind. Vir nou wil hulle net eers al ses wedrenne wen. Geen wêreld-kampionskap word vanjaar aangebied nie. Becker en Erasmus hou wel duime vas dat dit in 2020 op Stilbaai aangebied kan word.
Die span nooi almal uit om hulle op 9 Mei te ondersteun. SuperSport gaan die gebeure uitsaai en baie pret en plesier wag op ondersteuners. Hulle bedank hul borge en almal wat hulle ondersteun.
Raynor Becker en Hugo Erasmus nadat hulle hul toekenning ontvang het.
Monaco het Erasmus beïndruk.
Dit is hoe die trofee wat elkeen ontvang het lyk. Kompleet met ’n skroef (propeller).
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'